Friday, December 30, 2011

Veels geluk liewe Taaaaigher...

Ja, 30 Desember is inderdaad Meneer Woods se verjaarsdag.
Eldrick Tont "Tiger" Woods is op 30 Desember 2011 presies 36 jaar gelede gebore. Welkom by die tweede-keer-18-klub, Tiger!

Vir jare was ek gefassineer deur sy prestasies met stok-en-bal, oftewel gholf... maar 'n tydjie gelede het sy prestasies op twee ander terreine my stomgeslaan - en hierdie terreine is:
Ten eerste, administrasie, en
tweedens, die slaapkamer (of welke kamer hom en sy mistresses sou welgeval)!

Daar is al, volgens sekere twyfelagtige bronne, 12 dames geïdentifiseer wat sy mistresses (someone between a mister and a mattress) was  gedurende sy huwelik. Dalk was / is daar meer? Wie weet?

Tiger weet...

Ek het eerstens gewonder hoe dit alles begin het - en die volgende scenario het voor my ontwikkel:

Toe Tiger nog 'n tierwelpie was, so in die omgewing van 8 jaar oud,  het sy mamma altyd gesorg dat daar ten minste 'n pen en 'n potlood in sy hempsak was, want sy wou graag dat haar seun altyd gereed sou wees om te skryf as hy moet skryf. So sou Mamma Tier, elke oggend voor skool, meedoeënloos sorg dat haar seuntjie met skryfbehoeftes en toebroodjies uitgerus, en slaggereed vir die dag is.

Die gevolg is dat Tiger dit gehaat het om skryfbehoeftes met hom saam te dra, en toe hy die skoolbanke vir die gholfbaan verruil, is die enigste toelaatbare skryfgoed in sy onmiddellike omgewing, díe van sy joggie gewees...

Roem het redelik vinnig gekom, en tesame daarmee die eerste versoek van 'n beeldskone vrou wat Tiger se handtekening gevra het:
 "Haai, Taaaaigher, kan ek jou handtekening kry?"
 "Uhh, uhm, dit sal lekker wees, ag ek bedoel, ek sou graag wou... Maar ek het nie 'n skryfding aan my nie"
"Ek ook nie! Kan ons nie dalk gou in jou hotelkamer gaan loer nie?"(Ooglede fladder betekenisvol, tesame met 'n stoute glimlag...so 'n effense ene...) 
"O, uh, ja, klink goed! Kom ons gaan!"
[Op hierdie punt wou ek rondspeel met 'n B-graad hygromantoneel insluitend allerhande onder-die-gordel verwysings  na pen, ink, ensovoorts... Maar ek het daarteen besluit] 
Ek is seker die volgende 11 handtekeninge het makliker gegaan as die eerste een?

Soos in:
"Haai, Taaaaigher, kan ek jou handtekening kry?"
"Ja, seker! Kom ons gaan na my hotelkamer toe!"

Wat my bring by sy administratiewe kompetensies, wat my so verstom - na bewering het heelwat van sy minnaresse se verhoudingsperiodes gelyklopend geskied? En hulle het nie van mekaar geweet nie? En dit alles bo en behalwe die indrukwekkende gholfprestasies, openbare lewe, ensovoorts... en sy vrou en sy seuntjie en sy dogtertjie... Eisj... eintlik hartseer...

Wat die volgende scenario voor my geestesoog opgetower het:
Foon lui. Private number.
"Hallo, Tiger hier."
"Hallo jou Tiermannetjie, roar!"
"Uh, uhm, hallo jy, hoe gaan dit?"
"Sê  gou vir my my gunsteling ding... Ek móét dit hoor!"   
"Uhm, hoor hier, Liefde, ek is in die middel van iets, ek kan nie nou regtig praat nie, plus... plus ek wil nie jou bynaam goedkoop maak nie..."
"O, ag dis seker maar oukei, ek sal dit maar luister op daardie stemposboodskap wat jy 7 maande gelede vir my gelaat het... Wanneer sien ek jou weer?"
"O, uh, seker as ek weer daar by julle in 'n toernooi speel?"
"Oeee, ek kan nie wag nie, waar gaan ons hierdie ronde ontmoet vir 'n vrytjie en so..?"
"Sjoe, uhm, wat van die ou plek?"
"Aag nee, die ou plek is sommer boring! Ek wil by 'n nuwe plek..!"
"Oukei, oukei, Liefde, kies jy vir ons 'n nuwe plek...Whatever!" Sug. Verligting.
"Oukei, my Tierboskatmannetjie - ek wag vir jou! Mis jou! Lief vir jou!"
"Uh, ditto. Baai!"
Oproep eindig.

'n Stem kom vanuit Tiger se hotelkamer:
"Taaaaigher! Wie se tandeborsel en oorbelle is dit hierdie? Het jy al weer jou vrou gesien!" (Kwaai, jaloerse stemtoon)
"Nee, Liefde, ek het nie my vrou gesien nie..!" 
Sug. Gespanne...
"Mmm...oukei dan. Is jy reg vir nog 'n ronde, Tiger?"

En die moral of the story? As my kind (ers) belofte toon om supersuksesvol in enige rigting te presteer, gaan ek op geen element van hulle menswees hamer nie, al is dit dan nou die dra van skryfbehoeftes...
 

Thursday, December 29, 2011

B-y-t op die b-o-u-d...

Ek mag nie lag nie. Ek weet. Dit is nie mooi nie. Dit is nie reg nie.

Maar ek kan nie anders nie. Het myself tot trane gelag in die afgelope tien minute, kan nie ophou nie...

Vandag, vir die tweede dag in 'n ry, het Petro-Mari, binne 5 minute na haar middagete, en skuins voor haar middagslapie, haar ma, Lieng, op die b-o-u-d ge-b-y-t (ek wil nie hierdie woorde uitspreek nie, netnou lees Petro-Mari dit, dan versterk ons haar negatiewe gedrag...Sy's dalk twee jaar oud, maar ek kan nooit te seker wees nie.)

Altwee b-y-t-e was terwyl Anneline rustig by die kombuisvenster staan en kyk het na buite - dalk gewonder oor die 35-week oue baba in haar maag, en so aan? En so voorts?

Wonderlik vir my is hoe instinktief die 2-jarige haar ma kan help om te fokus op die hede, en op haar: "Hier is ek, Mamma, jou aandag sal waardeer word". Ek wonder of sy haar mamma op presies dieselfde plek gebyt het as gister? Dit sou nog beter werk..!

En tot vandag, het ek gedink Anneline spring nie meer nie, want haar maag is nou te groot?

Ek was verkeerd... 

Kom ek lag 'n bietjie verder... Jammer...weet ek mag nie...

Wednesday, December 28, 2011

Hierdie tyd van die jaar...Coke-en-iets...en twee tiptolletjies...

Tot en met 1998 het hierdie tyd van die jaar vir my 'n sekere betekenis ingehou. Toe, op 27 Desember 1999 het hierdie tyd van die jaar vir my eensklaps 'n anders betekenis gekry. Bo en behalwe die oorspronklike betekenis. Sy is weg op daardie dag, en gister was sy 'n volle 12 jaar al weg... Ek wonder hoe die 27 Desembers in die toekoms gaan wees? Gister het elemente van hartseer, afskeid, rou, herrinnering bevat (soos gewoonlik), maar ook iets nuuts - 'n viering? Van 'n lewe. Verrassend. Verfrissend...

My skoonfamilie is gisteroggend vroeg weg (huis toe) na 'n baie lekker kuier van 'n paar dae - die huis is nou dawerend stil... En niks meer Coke-en-iets nie - ek drink net saam met my skoonpa en swaer Coke-en-iets. As hulle nie naby is nie, mag daar nie Coke of iets in die huis wees nie. Ek wens hulle wou langer kuier? : )

Maandagmiddag het daar 'n buitjie uitgesak, gepaardgaande met 'n knorrige winderigheid. 'n Windverwaaide boomtak gooi toe twee tiptolletjies uit hul nessie - ten volle geveer, maar kan nog net afdraande vlieg. Hul ouers het visie gehad om hulle in 'n boomtak te huisves wat bo-oor ons erf is. As hulle elders in die boom gebly het, sou hulle nou al in Tigger, oom Leo se gemmerkat, se maag gewees het.

Nou ja, ons en ons mense ruk toe op en probeer die tiptolletjies weer terug in hul nessie kry, ek staan waaghalsig bo-op 'n aluminiumleer, Skoonpa hou die leer vas... hul ouers skree blou moord, en terug is hulle!

Vir 'n minuut.

Sug.

Ek is skaars terug op die grond, toe kom altwee weer afdraande gevlieg - en soos wafferse krieketspelers vang ek en my skoonpa elk 'n tiptolletjie!

Weer terug op die leer en ek sit hulle altwee in hul nessie, wat werklik vir my 'n bietjie knap voel - ek dink hul pa is 'n lui bouer. Hierdie keer gee ek hulle 'n toespraak - en vermaan hulle om asseblief nou rustig te wees, anders is hulle dalk permanent in die moeilikheid.

Weer vir 'n minuut - en daar kom hulle weer. Ons besluit om hulle in 'n mensgemaakte nes - 'n druiweboks uitgevoer met papierhandoek - te huisves, bo-op 'n blou syselbos (plumbago). Ons skarrel terug in die huis, en maak die honde aan die agterkant van die erf toe. Ons lewens moet voortgaan...

Gisteroggend is die boks leeg, en beide tiptolletjies sit styf teen mekaar op 'n tak in 'n olienhoutboom, so 50cm van die grond af, met hul ouers wat vir hulle daar kos gee. Dis dalk tweede prys, maar hulle het 'n kans op oorlewing. Gedurende Augustus het vier baba-olyflystertjies met die ongelooflikste kamoefleervernuf, en besorgde ma's, grootgeraak in ons erf, selfs waar die honde by was! Die natuur is darem maar iets anders! Wonderlik.

Ek hoop ek en Lieng kry dit reg om ons kinders op die regte tyd uit die nes uit te kry, nie te vroeg nie, nie te laat nie - net reg... Maar, terug na vanaand toe - daar wag 'n meisiekind met 'n nuwe pop, 'n blonde krulkop en 'n sterk wil vir my... : )

Monday, December 26, 2011

Van vrugteslaai, vrede, en magies se waatlemoen...

Daar's vir my iets magies rondom 'n bak koue waatlemoensnye en Suid-Afrikaanse somer. Propvol magies...

Bloem se somer voel effe subtiel tot dusver - die groot "droogte" gebreek deur vallende water, en sedertdien bespeur ek "local cooling" (wat seker ook as klimaatsverandering geklassifiseer kan word...)

['n Vriendin spekuleer nou-die-dag rondom hoe die woord 'waatlemoen' waarskynlik geëvolueer het van die oorspronklike 'waatmeloen' ]

Kersdag het gekom en gegaan, familie kuier steeds...vrugteslaai word elke paar uur vars gemaak en bo-op die oorblywende vorige slaai gesit, en gemeng - die "mature" met die varsgesnydes - amper soos die verskillende generasies wat saamkuier. Maak vir 'n gesonde mengsel - vrugteslaai wat so 'n dag of wat gestaan het, het beslis sy plek in 'n vrugteslaai, volgens my.

Kersboom geprakseer uit 'n gedroogte boomtak, met liggies - geen geskenke behalwe saamwees en kuier nie...en nog vrugteslaai...

Hangmat onder die lapa - uithangplek vir boekwurms - ek het darem al so 3 ure daar kon spandeer sedert die familie se aankoms.

Hier kom nog 'n stappie met Lallie op my rug, omring deur lekker mense.

Vrede...

Monday, December 19, 2011

SA Sukses?... Tien Tebo's...Watter -is om te is...

Ek't geruime tyd al wroegings in my:
Pak vir Perth
of 
Bly in Bloem?
En dan, soos ek mense, die nuus ens. waarneem en vertolk, binne my bepaalde gemoedstoestand op 'n bepaalde tydstip, swaai die pendulum lustig tussen die bogenoemde twee pole...
En dan verskaf ek myself baie pyn, soos ek scenario's skep in my kop, en oorweeg.
Die somtyds onversoenbare opinies van sekere van die -iste in die samelewing, bv. kapitaliste,  optimiste, sosialiste, kommuniste, fasciste, calviniste, pessimiste, feministe, rassiste, maoïste, seksiste, humaniste ens. maak my meestal lam-in-die-knie, en druk die pendulum meestal na die Perth-pool... 
Hoekom? 
Want gewoonlik bevat geen van die blêrrie opinies enige praktiese AKSIEstappe VORENTOE nie!
En ek hou van AKSIE.
Die volgende aksie-verhaal het sedert 2004 tot Augustus 2011 in my lewe afgespeel. 
En die ster van die verhaal is (dromme roffel asseblief?) Tebo Abednigo Nqodi, 'n 30-jarige man met die medesterre sy vrou, Mpati en drie kinders, Kamoeo, Tsegofatso, en Mpemetso. 
Hulle leef in 'n netjiese HOP-huis met 'n satellietskottel, 'n tuisvermaakstel en 'n netjiese draad reg rondom, vir beveiliging, in 'n woonbuurt genaamd Grassland 2, waar misdaad nogal woes is. Baie woester as waar ons bly.
Ons het nie 'n satellietskottel nie. Vir die rekord.
Tebo het by ons in die tuin gewerk vir hierdie tydperk. Maar hy wou nog altyd iets meer wees: 'n elektrisiën. Dit was ook nie 'n onrealisties verwagting nie, want hy het so 'n bietjie ervaring in hierdie veld, voordat sy voormalige elektriese werkgewer die stad verlaat het in 2004... en toe stap hy in ons storie in...
Ek droom self drome van goed wat ek wil wees en word, so ek wil dit gun vir die volgende mens.
Ons het vir hom geld geleen vir tegniese studies. Hy het nie geslaag nie. 
Ons het vir hom weeklikse werk by twee ander werkgewers gekry. Hy was nie baie betroubaar by een van sy drie werkgewers nie - gereeld laat, nie vreeslik produktief nie, gereeld nie opgedaag nie, sonder om te laat weet. 
Maar, volgens my, iemand met potensiaal, beide karaktergewys en vaardigheidsgewys. 
Ons het vir hom 'n CV opgestel wat elke greintjie aktiwiteit wat hy al gepleeg het, opge"dress" het as 'n bemarkbare vaardigheid. 
Ek het elke 6 maande sy CV na verskeie werkgewers in die elektriese industrie gestuur, sonder sukses. 
Ons het hom laat verf, ons elektriese proppe versien - dat hy verskeie goed kan doen. 

Van sy ander werkgewers het hom laat loodgieterswerk doen in en om hul huis, en toe probeer bemagtig met gereedskap en materiaal en aanmoediging om in sy woonbuurt die loodgieter van voorkeur te word. Tebo het nie die geleentheid aangryp nie. Wou onrealistiese pryse vra, sommer van sy eerste werkie af...

En so het sy gemaksone van tuinwerk en algemene instandhouding aangehou en aangehou. R1500 per maand vir hom en sy gesin, welsynstoelae ingesluit. Sy motiveringsvlakke het nie verhoog nie. Dit het verkrummel.

In Julie van hierdie jaar e-pos ek weer sy CV in die elektriese industrie rond - terwyl ek dink: hierdie ouens is seker by hierdie tyd al SO gatvol vir my. Maar, toe kom die oproep van André, wat in 2006 ons herbedrading gedoen het.

Die wiel draai toe tog. Hy wou weet vir hoeveel is Tebo bereid om te werk - sal hy bereid wees om teen R2 500 per maand weg te spring? Ek antwoord sommer namens Tebo dat hy definitief sal. Ek bedoel, dit is amper dubbel! Met hul welsynstoelae, sou hulle nog kwalifiseer, sou hulle R3 100 per maand verdien. En dit is MEER as dubbel!
Ek bel Tebo die aand om te hoor hoe sy onderhoud gegaan het. Hy vertel my dat dit goed gegaan het:
 "Did you talk about your salary?"
 "Yes, we have talked about it."
"Have you agreed on an amount?"
"No, we are still negotiating."
"What are you negotiating about?"
"I told them I want R4 500 per month for a start..."
Sug. Sug. Sug.
Ek "spring op Tebo se toebroodjies" - vertel vir hom in geen onseker terme dat hy nie meer 'n werk hier by ons het nie, en dat hy bereid moet wees om onder te begin, wat in enige geval dubbel sy huidige inkomste sal beteken. Damnit!
Hy stem klaarblyklik teen sy sin in om my voorstel te gaan uitvoer... 

Hy "settle" toe vir R2 500. Hy werk nou al 5 maande daar. Dit klink of dit oukei gaan. Ek moet hom nog so ver kry om 'n debietorder te teken om sy opgeboude skuld aan ons oor 'n ooreengekome termyn terug te betaal...

Ek wil tog, na alles, 'n -is wees - 'n REALIS.
My keuse is gemaak. Daar is net een pad vir sukses in ons land. En dit is vir mense wat weet hoe die lewe werk,  om vir mense wat onbewustelik onbekwaam is oor hoe die lewe werk, te lei na 'n volgende sport op die ontwikkelingsleer. Doen die beste wat jy kan, met wat jy het.

Dit geld vir ALMAL.

Hoeveel Tebo's is daar nog op my pad? Ek hoop vir twee, maar REALISTIES gesproke is daar waarskynlik tien. Tien Tebo's tussen my en 'n meer volhoubare Suid-Afrika...

Ek wonder hoe voel ander mense wat ook tussen Perth en SA "ping-pong" in hulle koppe?

Bly in Bloem. Vir vandag. Ek wonder of ek more moet koerant lees...




Saturday, December 17, 2011

Skaduwees...en skadukante...

Petro-Mari is, as 2-jarige, op die oomblik baie bewus van haar skaduwee...amper so bewus soos ek van my skadukant is...

Ons twee staan op die voorstoep vanoggend, toe sy my roep:

"Pappa, kyk my skaduwee!"

Sy staan met haar rug na die son, en swaai haar armpies om haar skaduwee lewe te gee.

En haar armpies vou om haar lyfie, en ook om haar skaduwee op die grond:

"Kyk, Pappa, ek gee my skaduwee 'n drukkie!"

Ek kan niks hierby voeg nie... Hoef nie... Wil nie...

Friday, December 16, 2011

Dagbreekverrassing...e-verligting

Dagbreekverrassing
Ek het gisteroggend vir die eerste keer in baie maande weer die drafpad saam met 'n vriend, oom Theuns, gevat. Oom Theuns is in die omgewing van 70 jaar oud, draf sommige weke nog 70km, klokslag Maandag tot Vrydag van 4:30 - 6:00.

Hy draf al so lank soos wat ek nou oud is...36 jaar...'n stuk of 12 Comrades'e agter die blad - veteraan in alle opsigte. Ek het groot agting vir iemand wat iewers in die lewe 'n besluit neem rakende iets wat hulle graag wil doen...en dit dan doen...en aanhou doen...en aanhou doen...en...

'n Bietjie van 'n skok op my sisteem om 4:00 op te staan - ons staan gewoonlik tussen 5:30 en 6:00 op vir ons gesinnetjie-oggendstappies...

Ons ontmoet by die ooreengekome punt, net so langs Willem Postma laerskool - oom Theuns sê ons gaan 'n "maklike" 9.5km deurwerk, sy "skokbrekers" is 'n bietjie "klaar" - dis nou die linkerknie...

[Ek onderbreek hierdie brokkie drafstorie met die nuus dat James Last en Georghe Zamfir sopas met hul optrede in my ore begin het - "The Lonely Shepherd" - ek dink ek gaan my musiekspeler op "repeat" sit... Hemels! ]

Ons spring weg teen 'n lekker gemaklike pas...gesels land en sand...hy borrel oor van die brokkies, en ek hou ook nie terug nie. Gooi brokkies!

Na ongeveer 'n derde van ons roete voltooi is, sien ons 'n man in 'n stokou, blou Corollatjie wat homself probeer "runstart" in Nelson Mandelarylaan, met die vroëe verkeer wat al redelik driftig begin woel deur die stad...maar hy sukkel! Ons is nie links nie of ons spring agter sy agterbuffer in en begin soos twee wafferse voorspelers ons "skrummasjien" vorentoe beur. Skree vir die man: "Okay, try it now?" Hy laat gaan die koppelaar, maar die karretjie ruk tot stilstand. Die trokke en motors ry rakelings by ons verby...

Dood soos 'n mossie...

Ek vra in watter rat is hy. "First gear". Ek beduie aan hom dat hy liefs tweede rat moet kies, en hy antwoord: "Sharp, sharp." Ons herhaal die roetine, en werk 'n lekker spoed op... Nee, die karretjie ruk weer tot by stilstaan - die voorwiele maak selfs so: "Ie, ie" soos ons prysenswaardige momentum afgetakel word deur die voertuig se onwilligheid.

Ek toets die man se aansitter - nie die kajuitliggie of enige van die ligte op die instrumentasiepaneel brand eers dof nie...

Ons besluit in oorlegpleging met die man dat ons hom gaan stoot tot by McDonald's se ingang, dan moet hy van daar af 'n plan maak. Ons werk vir 'n laaste keer 'n lekker momentum op, en laat vrywiel die man vir die laaste paar meter tot by sy bestemming.

Toe hy so geluidloos, behalwe vir een of twee wielmoere wat "tsjie-tsjie" voor ons uitwiel en indraai by McDonald's, let ek vir die eerste keer op die letterwerk op sy agterruit:

"Simply the best".

Nie vandag nie, ou maat, miskien more weer, maar nie vandag nie...

Ons voltooi ons roete, en oom Theuns nooi my in vir koffie - sy vrou, tannie 'Lena, slaap nog. Ek kry vir ons die ketel aan die gang - hy verdwyn vir 'n oomblik uit die kombuis, keer terug met twee handdoeke - gooi een om my skouers: "Jy moenie te gou afkoel nie, my ou maat." Jare se ondervinding wat daar praat. Na die lekker koffie en geselsies om hul kombuistafel vat hy my huis toe, in sy klein wit bakkie, waar my "girls" vir my wag, reg vir ons oggendstappie... net na dagbreek...

En wat 'n mooi dagbreek was dit nie.

E-verligting
Ek het vandag bietjie e-purgasie (brookl@X?) vir my rekenaar ingegee. 

2 e-posadresse - gesamentlik 450 e-posse in die onderskeie inbokse. 

3 ure toegelate tyd. 

Skep 'n paar argiefleêrs vir sekere temas. 

Begin liasseer teen hoogste versnelling. 

"Unsubscribe" by maklik 20 eens onontbeerlike e-pos-diarree-instansies...hoekom het ek nou weer voorheen by hulle ge-"subscribe"?

Dalk om dieselfde rede wat ek soms gebruikte onderdele hou: Netnou kom hier eendag iets waardevol / bruikbaar hier uit...

Toe nie. Glad en geheel en al nie. Het ek my les geleer..? Sal Desember 2012, net voor die volgende wegraping, weer 'n bietjie terugskouiing pleeg...

2 ure en 48 minute later is ek die trotse bewaarder van slegs 12 e-posse oor twee e-posbusse heen. Regtig belangrike goed. Regtig.

Dit voel amper of ek weer gebore is..! : ) 

Wednesday, December 14, 2011

Koste-plus geskroef versus Toelaatbare kinderarbeid?

Deel 1: Kinderarbeid het sy plek?

Ek het vanoggend "duisende" 10cm-hoog witstinkhoutjies uitgehaal.

Hoekom inheemse boompies uithaal?
Eerstens: dit is Celtis sinensis, 'n Chinese variant wat 'n aggressiewe indringer in Suid-Afrika is.
Tweedens: daar is te veel vir die stuk tuin waar hulle aan't groei was - baie van die bome sou mekaar oor die volgende 100 jaar of so, in enige geval verdring het - ek wou nie 100 jaar wag nie.

Getrou aan haar nuuskierige- en hulpvaardige aard, het Lalliepot nader gestap om haar pappa te kom help "bossies uittek (nie 'n spelfout nie)". En daar ontpop sy in 'n natuurlike 10cm Witstinkhout-uithaler! Haar handjies, hoeveelheid krag in haar arms, haar lengte, alles is perfek dat sy hulle veel vinniger en meer doeltreffend as ek uithaal! Sy hoef nie te dink aan wat die mees gepaste trekkrag is sodat hulle stammetjies nie afbreek, en die wortels agterlaat nie. Sy was 'n reuse-hulp, en het 'n groot deel tot my ontbossingssukses bygedra.

Ek wil dus 'n saak maak vir kinderarbeid..?

Behalwe toe ek my tekkies aantrek - toe wonder ek hoe oud die hande was wat hulle aan die ander kant van die aardbol aanmekaar gesit het?

Deel 2: Koste-plus - is daar 'n skroef los iewers? Hoekom voel ek toenemend geskroef?

Ek en Petro-Mari (Lalliepot) stap na bogenoemde ontbossing na die winkel vir brood, melk en piesangs...

Die spesifieke winkel waar ons die aankope gedoen het, bak volgens my die lekkerste bruin brood wat ek in 'n lang ruk geproe het.

Ek kom toe vanoggend egter agter - die brode is amper 'n kwart kleiner as wat hulle die afgelope tyd was, en dit is 20% duurder...

Sug - hier gaan ons al weer: Tjips, tjoklits, restaurantkos, noem dit...hoekom gaan dit altyd so?

Tjips was altyd 150g vir 'n groot pak - deesdae is die standaard 125g, duurder as die vorige 150g pakke. En dan het die vervaardigers van tyd tot tyd die vermetelheid om uit te basuin:

Ekstra 20% teen geen ekstra kostes! Woo-hoo!

En dan is die tjips weer 150g. : |

Tjoklits was altyd 100g en 200g vir die groter blokke, en nou 80g en 180g, met dieselfde bonus-ekstra-nonsens van tyd tot tyd.

Ek en 'n vriend het op 'n tyd weekliks ontbyt by 'n restaurant genuttig, teen R9.95 vir spek, brood, tamatie, 2 eiers en 2 mini boerewors-stukkies. Uitstekende waarde. Na 'n paar maande toe word die boerewors pienk viennas.

Niks fout met pienk viennas nie, maar dit is nie boerewors nie!

My punt is dit: waar gaan hierdie goed eindig? Gaan ek binne 'n paar jaar winkel toe stap vir 'n brood, dan gee hulle my 'n crouton vir R20?

Voel so...

Miskien is dit een van die groter skroewe wat in die samelewing los is op die oomblik - waar geld toenemend ten koste van kwaliteit en kwantiteit gemaak word.

Wanneer gaan ek begin vra wat genoeg geld is, eerder as om altyd te voel ek moet nog meer kry, maak nie saak hoeveel ek reeds het nie?

Ek wonder...

Tuesday, December 13, 2011

Dinsdag Donder...en Donker

Opstaan. Stap. Eet. Gras. Koffie. Koerant.

"Muur"...hanna-hanna en poer-poer vir 'n paar uur.

Grasdakmanne arriveer...word weer weggedonder deur die weer.

Kry darem 'n paar novelle-blaaie gelees terwyl ek die honne oppas en stilhou dat Lalliepot kan slaap, terwyl die grasmanne nog kon werskaf...

O ja, en terwyl ek gras gesny het, was daar so 'n oomblik se magic toe ek vir Griet, ons alpha female hond, gevryf het terwyl sy haar op die plaveisel uitstreeeeek... vingers en handpalms op warmgebakte honnevel...donssag keelvel en hondemaag...Nirvana vir die hond, met ook so 'n stukkie vir my...

En so skuins na drie toe kom sit Lallie en sing by die klavier...terwyl sy die klawers liggies ewekansig druk - lieflik chaoties soos wolkedruppels...

En so 'n paar minute daarna kom sy met 'n maatband in die kantoor ingestap en meet een of ander aspek van my arm.

"Hoe lank is dit?"

"Sommer twee kilometer..!" My glimlag is maksimum.

Voltooi die konsep-lirieke van 'n lied wat na die oppervlak geborrel het tydens my afgelope paar weke...moet uit:

Hallo Donker, my ou pel,
ek kom vir jou nou iets vertel...

Sunday, December 11, 2011

Titels galore...

Die bogenoemde titel behoort 'n klokkie te lui vir James Bond aanhangers? Of nie?

Het vanoggend, na 'n 2-uur stappie deur ons buurt en deur Bloem se lieflike 7-damme bewarea ( www.7dams.co.za ), groot ontbyt, skottelgoed, koffie, koerant en speel, so 'n bietjie deur my lys van skryftemas gewerk...

Bietjie herrangskik, uitgebrei waar nodig, uitgevee waar oorbodig / gedupliseer.

Genugtig, maar dit is inderdaag galore! Ek wil nie windgat klink nie (oukei, miskien 'n bietjie) - dit is maar net as iets my tref te enige tyd van: die lewe, mense, enigiets, dan skryf ek dit neer in my om-te-skryf-lys, en laat dit rustig wees tot ek daarby uitkom...

Dan marineer dit as't ware in my brein... mmm...soos hoendersosaties...

Die eerste twee projekte wat 'n bietjie momentum gekry het hierdie jaar was Confessions of an alcoholic's son (ek is die die seun, en my oorlede ma is die ma), en Emigrasiestories.

Eersgenoemde is iets wat ek moes doen - kon nie die "rolprent" langer in my kop hou nie - toe sit ek hom op papier - en nou is my kop effe stiller...en ek sien my ma as 'n mens, dalk vir die eerste keer...en ek kan vir die eerste keer sedert 1999 (sy is toe oorlede) regtig rou, en haar laat gaan - dat sy kan vrede ervaar... en ek natuurlik. En die mense om my...maar nie almal nie...maar so is die lewe?

Die Confessions manuskrip dwarrel tans rond tussen vriende en familie - met plek-plek ongelooflike gevolge, en ook teleurstellings...wat die lewe tog maar in 'n neutedop is?

Ek het by 'n man gesit wie ek al 6 jaar ken, en bietjie oopgemaak oor my "stil" (werksgewys) 2011, en my skryf van Confessions tot dusver, en dat ek wens ek kon die manuskrip saam met iemand skryf wat ook so 'n tipe lewenspad loop. Ten einde die stories te vervleg om nog meer waarde te ontsluit...miskien...

Hy verstom my toe: Sy dogter is op 29-jarige ouderdom vir die vierde keer in rehab, en sy broer is ook 'n verslaafde-sonder-ophou... en ek mag maar sy storie opteken vir vervlegting met my storie.

Hallo? Waar gaan hierdie proses heen?

Bang. Opgewonde. Kan nie wag nie. Kan ek nie maar iets veiligers aanpak nie? Begeesterd...

Die Emigrasiestories-gedoente-titel gaan oor my eie wroeging (soms gereeld) rakende my bly-of-gly toekomsdenke rondom Suid-Afrika... hoe ek myself keer op keer oortuig om te bly as ek sulke  wonderlike mense-stories hoor, ervaar, sien in ander mense...

Beide bogenoemde is die onderwerp van 'n skrywersbeursaansoek, terwyl die Confessions titel al by uitgewers is vir oorweging.

Sjoe, die senuwees knaag maar "lekker" - gelukkig is die wagtydperk darem net 6 tot 8 maande... : )

Daar is 'n derde projek, wat waarskynlik gemik gaan wees op my versugtinge, gewaarwordinge, pyn, plesier en sulke nonsens, rondom aspekte van generasie-gapings, persoonlik en oor die algemeen. Die projek het al 'n baie lekker titel, volgens my:

Confessions of a calvinist's son: oopkop hel toe...

Man, die titel maak my sommer opgewonde, maar ek besef deeglik dat dit verwarrend kan wees: dit gaan nie teen Calviniste of -me, of my ouers (individueel of saam) gemik wees nie. Verder gaan dit deels oor my geloofspad handel, maar nie naastenby uitsluitlik nie... Miskien kan die verwarring in my guns tel...as die boek gepubliseer word, kan ek dit by CUM en Exclusive verkoop... : )

En as die titel my opgewonde maak, maak die storie agter die titel my nog meer opgewonde - ek het lanklaas so lekker gelag. Maar genoeg nou hiervan, behalwe om 'n dankbetuiging aan WhatsApp tegnologie te bring, vir die daarstel van hierdie titel...

Miskien moet ek iets skryf oor titels en die stories daaragter?

Iets soos:

Titillating titles...

Of wat ookal?

Friday, December 9, 2011

Drukkoker-bakkery...'n kettingsaag...en 'n vriend... (viole speel onheilspellend...)

Hey!

Ek is Werner.
Welkom by / op / in my blog!  En in my brein se tuin...effe wild hier, van tyd tot tyd, maar oordeel jy maar self...

Ek is tans die tweede keer 18 : ), werk al 18 jaar, getroud met Anneline (Lieng) vir 10 jaar, en het saam 'n mooi mys, Petro-Mari (Lalliepot, maar haar byname wissel van dag tot dag) (2 jaartjies) (tweede enetjie einde Jan. 2012 / begin Feb. op pad)...

Interessante tye...baie interessant... ek voel 'n bietjie soos 'n afwagtende springmieliepit in 'n drukkoker... hoop nie ek "pop" gou nie.

Laas keer toe Lieng in die laaste paar weke van swangerskap was, toe kry ek 'n bevlieging soos sekere mense wat wag vir sneeu om te smelt na 'n lang yswinter... so 'n algemene bedonnerdgeit wat moet uitloop op 'n uitbarsting van een of ander aard... gepaardgaande met permanent gesperde neusvleuels, natuurlik...

Toe huur ek 'n kettingsaag by 'n tool-plek, koop 'n bietjie two-stroke en petrol en ontbos ons erf - geen uitheemse boom het staande gebly nie...

Raaaaaaaaaa!!! 

Ek het gevoel soos Conan die Barbaar + Arnold Schwarzenegger + Vernon Koekemoer + MacGuyver + die Tokkelossie, alles-in-een! En ek was effe rustiger tot en met Lalliepot se geboorte. 

Wou haar oorspronklik Konyn en Latika noem (as byname), maar Lalliepot het ge-stick...vir een of ander rede.

Konyn kom van 'n oulike ou Mini (motor) waarop die naam Konyn geverf was, en Latika is daardie opvreetbare Indiese meisiekind in Slumdog Millionaire - met die pikswart ogies en blink-blou swart haartjies... 

Maar toe is Lalliepot 'n blondinetjie, en haar ogies is blou soos die hemel...

Terug by die hede... dis weer sulke tyd, met 'n effense verskil - oukei, korreksie - met 'n m**rse verskil:

Lieng is weer in die final countdown...Lalliepot is super-oulik-prinses, ek het in Augustus laas wesenlike konsultasiewerk gehad (darem so 'n bietjie in Oktober, en so 'n bietjie hierdie maand), het 'n memoire-rige manuskrip en 'n paar kortverhale gepleeg sedert Mei hierdie jaar...

Daar is 'n uitdrukking: Gooi jou brood op die water..?

En dis hier waar ek soveel brood op die water het dat dit beslis, volgens my, 'n bakkery genoem kan word - twee skrywersbeursaansoeke by 'n universiteit, so 'n stuk of 20 formele werksaansoeke, 'n handvol konsultasie-voorleggings, sirkuleer my manuskrip in my netwerk en kyk waarheen dit gaan, werk met my kitaarmeester om hom by die wêreldverhoog te kry - waar hy hoort. Komponeer staaaadig aan 'n song of twee. Voltooi my daaglikse dosis klassieke kitaarstudies... en my manuskrip is by nege uitgewers vir hulle heerlike 6-8 maande evaluasieproses...

Bou, bou, bou...

Brood...brood...bakkery...

Lieng vra my iewers hierdie week: "Neem jy nie nou jou stokperdjies te ernstig op nie..?" 

Daar flits 'n geluid deur my kop soos 'n vinielplaat wat strelende musiek speel, en dan kwetsend krap...en die musiek in my kop is weg... ek grom innerlik...
Bliksem, soms hou ek nie van 'n challenge nie! : ) Maar ek hou daarvan dat Lieng die balls het om so op my knoppies te druk... soms  (hou ek daarvan, sy druk altyd my knoppies) : )

Maar die antwoord moet wees: "Ek weet nie...ek weet nie." Op 'n manier word dit oukei vir my om dit te spreek: "Ek weet nie."

Intussen was  ek hierdie week by 'n vriend - totale senuwee-ineenstorting gehad a.g.v. te sterk probeer wees vir te lank - hy weet nie waarheen nou nie... weet nie... Draf op sy treadmill as die depressie te erg begin knaag...nie gedink ek sal hom ooit so broos sien nie... ek is stil, diep stil...

Ek kan nie sy oë uit my gedagtes kry nie...spook by my. Bid hard vir hom...die eerste bloeiseltjies van sy heling wys al - maar hulle is klein, net so broos soos hy...

So maklik om op myself te fokus - terwyl my vriend my nodig het om na hom uit te reik...hy help my onthou dat ek nie sterk is nie. Was nog nooit nie. Dis grootliks waaroor my manuskrip gaan.

Oeeee...arme ek! Lieng se broodjie wat bak - amper gaar... en dan my professionele bakkery wat ek op die water gegooi het...

Dan wil ek skree:
"from the top of my lungs: What's going on?!
And I say: Heeeeey-yaaaaay-yaaaay-hey-hey,
Heeeeey - yaaaaay- yay, I say hey!
What's going on!" (Met apologie aan Four Non-Blondes : ) )

Oftewel, in my eie woorde:
"Waar is die rendement...wanneer kom die brood nou terug..? Wat moet ek meer doen?" So asof ek 'n (eensydige) sielkundige kontrak met die heelal gesluit het... en ek het ALLES (volgens my, natuurlik) gedoen wat redelikerwys van my verwag kan word..!

"Come on!"

"Waar is die resultate! Wanneer kom daar meer inkomste! Wanneer kom die baba! Wanneer kry ek 'n onderhoud..!"

Ek is meer opgewonde, meer gereed, meer verveeld as nog ooit tevore..!

En dan hoor ek 'n God-stem wat praat, so diep soos Jean-Luc Picard se stem (Star Trek-kaptein van formaat, volgens my), of dalk James Earl-Jones (Mufasa in Lion King):
 "Jy het daarin getrap, al 8 maande terug..! Jy staan nou daarin...knie-diep al..."

"Wat?! Ho..Mmm..Hoe nou?" Ek kyk om my, verward rond - voel 'n bietjie weird...

Miskien is 'n kettingsaag nie nou nodig nie? 

Miskien moet ek maar net aanhou doen wat Lalliepot sê, as iemand haar vra watter werk haar pappa doen:"
"My pappa druk knoppies."

Dankie, my mys...ek sal aanhou knoppies druk, vir nou... Mwa! : )