Wednesday, December 14, 2011

Koste-plus geskroef versus Toelaatbare kinderarbeid?

Deel 1: Kinderarbeid het sy plek?

Ek het vanoggend "duisende" 10cm-hoog witstinkhoutjies uitgehaal.

Hoekom inheemse boompies uithaal?
Eerstens: dit is Celtis sinensis, 'n Chinese variant wat 'n aggressiewe indringer in Suid-Afrika is.
Tweedens: daar is te veel vir die stuk tuin waar hulle aan't groei was - baie van die bome sou mekaar oor die volgende 100 jaar of so, in enige geval verdring het - ek wou nie 100 jaar wag nie.

Getrou aan haar nuuskierige- en hulpvaardige aard, het Lalliepot nader gestap om haar pappa te kom help "bossies uittek (nie 'n spelfout nie)". En daar ontpop sy in 'n natuurlike 10cm Witstinkhout-uithaler! Haar handjies, hoeveelheid krag in haar arms, haar lengte, alles is perfek dat sy hulle veel vinniger en meer doeltreffend as ek uithaal! Sy hoef nie te dink aan wat die mees gepaste trekkrag is sodat hulle stammetjies nie afbreek, en die wortels agterlaat nie. Sy was 'n reuse-hulp, en het 'n groot deel tot my ontbossingssukses bygedra.

Ek wil dus 'n saak maak vir kinderarbeid..?

Behalwe toe ek my tekkies aantrek - toe wonder ek hoe oud die hande was wat hulle aan die ander kant van die aardbol aanmekaar gesit het?

Deel 2: Koste-plus - is daar 'n skroef los iewers? Hoekom voel ek toenemend geskroef?

Ek en Petro-Mari (Lalliepot) stap na bogenoemde ontbossing na die winkel vir brood, melk en piesangs...

Die spesifieke winkel waar ons die aankope gedoen het, bak volgens my die lekkerste bruin brood wat ek in 'n lang ruk geproe het.

Ek kom toe vanoggend egter agter - die brode is amper 'n kwart kleiner as wat hulle die afgelope tyd was, en dit is 20% duurder...

Sug - hier gaan ons al weer: Tjips, tjoklits, restaurantkos, noem dit...hoekom gaan dit altyd so?

Tjips was altyd 150g vir 'n groot pak - deesdae is die standaard 125g, duurder as die vorige 150g pakke. En dan het die vervaardigers van tyd tot tyd die vermetelheid om uit te basuin:

Ekstra 20% teen geen ekstra kostes! Woo-hoo!

En dan is die tjips weer 150g. : |

Tjoklits was altyd 100g en 200g vir die groter blokke, en nou 80g en 180g, met dieselfde bonus-ekstra-nonsens van tyd tot tyd.

Ek en 'n vriend het op 'n tyd weekliks ontbyt by 'n restaurant genuttig, teen R9.95 vir spek, brood, tamatie, 2 eiers en 2 mini boerewors-stukkies. Uitstekende waarde. Na 'n paar maande toe word die boerewors pienk viennas.

Niks fout met pienk viennas nie, maar dit is nie boerewors nie!

My punt is dit: waar gaan hierdie goed eindig? Gaan ek binne 'n paar jaar winkel toe stap vir 'n brood, dan gee hulle my 'n crouton vir R20?

Voel so...

Miskien is dit een van die groter skroewe wat in die samelewing los is op die oomblik - waar geld toenemend ten koste van kwaliteit en kwantiteit gemaak word.

Wanneer gaan ek begin vra wat genoeg geld is, eerder as om altyd te voel ek moet nog meer kry, maak nie saak hoeveel ek reeds het nie?

Ek wonder...

No comments:

Post a Comment