Monday, December 19, 2011

SA Sukses?... Tien Tebo's...Watter -is om te is...

Ek't geruime tyd al wroegings in my:
Pak vir Perth
of 
Bly in Bloem?
En dan, soos ek mense, die nuus ens. waarneem en vertolk, binne my bepaalde gemoedstoestand op 'n bepaalde tydstip, swaai die pendulum lustig tussen die bogenoemde twee pole...
En dan verskaf ek myself baie pyn, soos ek scenario's skep in my kop, en oorweeg.
Die somtyds onversoenbare opinies van sekere van die -iste in die samelewing, bv. kapitaliste,  optimiste, sosialiste, kommuniste, fasciste, calviniste, pessimiste, feministe, rassiste, maoïste, seksiste, humaniste ens. maak my meestal lam-in-die-knie, en druk die pendulum meestal na die Perth-pool... 
Hoekom? 
Want gewoonlik bevat geen van die blêrrie opinies enige praktiese AKSIEstappe VORENTOE nie!
En ek hou van AKSIE.
Die volgende aksie-verhaal het sedert 2004 tot Augustus 2011 in my lewe afgespeel. 
En die ster van die verhaal is (dromme roffel asseblief?) Tebo Abednigo Nqodi, 'n 30-jarige man met die medesterre sy vrou, Mpati en drie kinders, Kamoeo, Tsegofatso, en Mpemetso. 
Hulle leef in 'n netjiese HOP-huis met 'n satellietskottel, 'n tuisvermaakstel en 'n netjiese draad reg rondom, vir beveiliging, in 'n woonbuurt genaamd Grassland 2, waar misdaad nogal woes is. Baie woester as waar ons bly.
Ons het nie 'n satellietskottel nie. Vir die rekord.
Tebo het by ons in die tuin gewerk vir hierdie tydperk. Maar hy wou nog altyd iets meer wees: 'n elektrisiën. Dit was ook nie 'n onrealisties verwagting nie, want hy het so 'n bietjie ervaring in hierdie veld, voordat sy voormalige elektriese werkgewer die stad verlaat het in 2004... en toe stap hy in ons storie in...
Ek droom self drome van goed wat ek wil wees en word, so ek wil dit gun vir die volgende mens.
Ons het vir hom geld geleen vir tegniese studies. Hy het nie geslaag nie. 
Ons het vir hom weeklikse werk by twee ander werkgewers gekry. Hy was nie baie betroubaar by een van sy drie werkgewers nie - gereeld laat, nie vreeslik produktief nie, gereeld nie opgedaag nie, sonder om te laat weet. 
Maar, volgens my, iemand met potensiaal, beide karaktergewys en vaardigheidsgewys. 
Ons het vir hom 'n CV opgestel wat elke greintjie aktiwiteit wat hy al gepleeg het, opge"dress" het as 'n bemarkbare vaardigheid. 
Ek het elke 6 maande sy CV na verskeie werkgewers in die elektriese industrie gestuur, sonder sukses. 
Ons het hom laat verf, ons elektriese proppe versien - dat hy verskeie goed kan doen. 

Van sy ander werkgewers het hom laat loodgieterswerk doen in en om hul huis, en toe probeer bemagtig met gereedskap en materiaal en aanmoediging om in sy woonbuurt die loodgieter van voorkeur te word. Tebo het nie die geleentheid aangryp nie. Wou onrealistiese pryse vra, sommer van sy eerste werkie af...

En so het sy gemaksone van tuinwerk en algemene instandhouding aangehou en aangehou. R1500 per maand vir hom en sy gesin, welsynstoelae ingesluit. Sy motiveringsvlakke het nie verhoog nie. Dit het verkrummel.

In Julie van hierdie jaar e-pos ek weer sy CV in die elektriese industrie rond - terwyl ek dink: hierdie ouens is seker by hierdie tyd al SO gatvol vir my. Maar, toe kom die oproep van André, wat in 2006 ons herbedrading gedoen het.

Die wiel draai toe tog. Hy wou weet vir hoeveel is Tebo bereid om te werk - sal hy bereid wees om teen R2 500 per maand weg te spring? Ek antwoord sommer namens Tebo dat hy definitief sal. Ek bedoel, dit is amper dubbel! Met hul welsynstoelae, sou hulle nog kwalifiseer, sou hulle R3 100 per maand verdien. En dit is MEER as dubbel!
Ek bel Tebo die aand om te hoor hoe sy onderhoud gegaan het. Hy vertel my dat dit goed gegaan het:
 "Did you talk about your salary?"
 "Yes, we have talked about it."
"Have you agreed on an amount?"
"No, we are still negotiating."
"What are you negotiating about?"
"I told them I want R4 500 per month for a start..."
Sug. Sug. Sug.
Ek "spring op Tebo se toebroodjies" - vertel vir hom in geen onseker terme dat hy nie meer 'n werk hier by ons het nie, en dat hy bereid moet wees om onder te begin, wat in enige geval dubbel sy huidige inkomste sal beteken. Damnit!
Hy stem klaarblyklik teen sy sin in om my voorstel te gaan uitvoer... 

Hy "settle" toe vir R2 500. Hy werk nou al 5 maande daar. Dit klink of dit oukei gaan. Ek moet hom nog so ver kry om 'n debietorder te teken om sy opgeboude skuld aan ons oor 'n ooreengekome termyn terug te betaal...

Ek wil tog, na alles, 'n -is wees - 'n REALIS.
My keuse is gemaak. Daar is net een pad vir sukses in ons land. En dit is vir mense wat weet hoe die lewe werk,  om vir mense wat onbewustelik onbekwaam is oor hoe die lewe werk, te lei na 'n volgende sport op die ontwikkelingsleer. Doen die beste wat jy kan, met wat jy het.

Dit geld vir ALMAL.

Hoeveel Tebo's is daar nog op my pad? Ek hoop vir twee, maar REALISTIES gesproke is daar waarskynlik tien. Tien Tebo's tussen my en 'n meer volhoubare Suid-Afrika...

Ek wonder hoe voel ander mense wat ook tussen Perth en SA "ping-pong" in hulle koppe?

Bly in Bloem. Vir vandag. Ek wonder of ek more moet koerant lees...




2 comments:

  1. Jou frustrasie het amper deur my skerm geklim! Net om jou te onstel kan mens nog Wes-Kaap byvoeg vir 'n lekker liefdesdriehoek :) Maar feit-is, elkeen wat bly moet iewers deel van die aksie-stappe wees. Maar waar is hierdie plek waar ons kan skouer ingooi? Bring die 10 'Tebos' eerder nou; hoe gouer ons agter raak hoe meer tyd het ons om in te haal...

    ReplyDelete
  2. Inderdaad.

    Ons het eenkeer gespekuleer oor wat ons moontlike emigrasie-strategie sou wees:

    Stap 1: Wes-Kaap
    Stap 2: Namibie (ons vrek oor die land, en spesifiek die Namib-Naukluft Park...)
    Stap 3: Botswana
    Stap 4: Perth

    Ek hoop nog vir 2 Tebo's, baie dankie...so miskien sal ek "settle" vir 6..?
    En dan is ek natuurlik nog op vele lewensterreine iemand anders se "Tebo" - en ek hoop ek word gou bewus van die terreine en persone, bla, bla, bla... :)

    ReplyDelete