Verhoogstories
Stories oor ervarings
van 'n toneelgeselskap
'n Toneelstuk op
Bastilledag, 14 Julie 2012
Gebaseer op 'n ware
verhaal
©
Werner Schmidt, 2012
Die ooreenkoms word
beklink om op te tree. Die toneelgeselskap, bestaande uit sewe
spelers, begin repeteer in die intieme saal waar die stuk opgevoer
gaan word. D -dag is Saterdag, 14 Julie 2012, om 14:30.
Bastilledag.
Dinsdagaande vanaf 5:30
werskaf die toneelgroep in die optreeruimte, en soms by die stigter
se huis.
'n Pyprokende man in 'n
ou rolstoel met 'n rooigeverfde raam, is teenwoordig, elke
Dinsdagmiddag, soos die toneelgeselskap aan- en verbykom vir hul
repetisie, dié
kere wat hulle wel in die optreeruimte repeteer. Hy parkeer sy
rolstoel sodat hy weswaarts kyk, deur die duiwelsvurkomheining, na
die besige straat, wat mense huiswaarts voer. Hy is gewoonlik sowat 3
meter van die voetpaadjie af, wat na die saal lei.
'n Akteur of twee begin
hier en daar kort geselsies met hom aanknoop, soos hulle verbyloop,
stukke van die stel verbydra, so aan. Hy praat nie baie nie, maar
begin tog 'n bietjie meer spraaksaam word, soos D-dag nader kom. Ten
minste een van die akteurs is opnuut dankbaar vir relatief skeetlose
bene.
"Middag, hoe gaan
dit vanmiddag?"
"Dit gaan goed."
"Ek is bly om dit te
hoor. Gaan jy na ons toneelstuk kom kyk op Saterdag, 14 Julie?"
"Hoe laat gaan dit
wees?"
"Ons begin amptelik
2:30 in die middag."
"O, ehh, ek sal kyk
of ek iets aan het..."
"Dit sal lekker wees
om jou daar te sien."
"Is daai goed wat jy
dra nie swaar nie?"
"Nee wat, die skerms
is maar net bietjie ongemaklik, maar hulle is nogal lig."
"O. Lekker dra,
hoor."
"Dankie, mooi bly."
Sy kop draai weer straat
toe, teug diep aan sy pyp.
********************************
Die repetisies word
langer, soos Bastilledag nader kom.
Een aand kom daar 'n inwoner van die kompleks ingeloop terwyl die repetisie in volle swang is. Loop reguit verby al die spelers, en gaan sit op 'n stoel. Vasberade. Sê nie 'n woord nie. Die spelers bondel saam, 'n entjie van hom af, om sy teenwoordigheid te bespreek. Sommiges meen hy kan maar sit en die repetisie geniet, ander wil hê dat hy die lokaal verlaat. 'n Speler nader hom direk. Hy staan op, soos die speler nader kom. Instinktief neem die speler hom aan die bo-arm. Sagkens.
Een aand kom daar 'n inwoner van die kompleks ingeloop terwyl die repetisie in volle swang is. Loop reguit verby al die spelers, en gaan sit op 'n stoel. Vasberade. Sê nie 'n woord nie. Die spelers bondel saam, 'n entjie van hom af, om sy teenwoordigheid te bespreek. Sommiges meen hy kan maar sit en die repetisie geniet, ander wil hê dat hy die lokaal verlaat. 'n Speler nader hom direk. Hy staan op, soos die speler nader kom. Instinktief neem die speler hom aan die bo-arm. Sagkens.
"Goeienaand,
kan ek jou dalk na jou kamer toe vergesel?"
"Waar
is my kamer?"
"Ek
weet nie."
"Ek
weet ook nie, so ek bly net hier." waarop die akteur sy arm los.
Die
toneelgeselskap bondel weer saam - om te besluit wat om te doen.
"Gaan
roep 'n personeellid," sê een.
"Ek
dink nog steeds ons kan hom laat bly," antwoord 'n ander.
Die
speler wat 'n oomblik gelede misluk het om die man na sy kamer te
neem, verlaat die lokaal, op soek na 'n personeellid. Die gange is
nogal donker. Hy vind 'n personeellid in 'n uniform, en voel verlig.
Verduidelik die situasie. Die personeellid dui aan dat hierdie man
gereeld so optree, en stap vooruit, na die repetisielokaal toe.
Na
'n kort, konflikbelaaide woordewisseling kom die personeellid en die
man uitgestap. Laasgenoemde word deur eersgenoemde aan die arm gelei.
'n Speler groet die man, maar hy kyk die speler net stip aan, soos hy
stadig verbybeweeg...
********************************
Die
Woensdagaand, voor Bastilledag, word die eerste van twee
kleedrepetisies gehou. 'n Speler verlaat vir 'n oomblik die saal, om
'n draai te gaan loop.
'n
Vrou in 'n rolstoel - meer modern as die pyproker s'n - kom die
speler tegemoetgery... Angs op haar gesig, huilerige stem. Praat
vinnig.
"Waar
kan ek gaan, ek is nuut hier, ek sal doodgaan in my kamer, ek het my
man verloor, ek soek net ander mense..."
Die
speler vat aan haar arm, en kyk haar stip in die oë.
"Ek
is baie jammer om dit te hoor."
"Baie
dankie, wat is jou naam?" vra sy, heelwat stadiger, en minder
angstig.
Die
speler se naam word genoem, en 'n verduideliking word verskaf rakende
hoekom die speler nie weet waar daar ander mense is nie. Die speler
onderneem om 'n personeellid te gaan soek. Daar brand 'n kantoorlig
in die gang af, en die speler gaan die kantoor binne. 'n
Personeellid-in-uniform ontvang die situasie, en vra 'n beskrywing
van die vrou in die rolstoel.
Die
personeellid loop vooruit, en na 'n kort woordewisseling, word die
vrou in haar rolstoel weggewiel.
********************************
Tydens
die finale kleedrepetisie, kom die geselskap agter dat die
gebruiklike kontakpersoon nie die toiletsleutel aan hulle gegee het
nie - en 'n speler gaan soek elders in die kompleks vir iemand met so
'n sleutel. Dit is relatief dringend.
Beland
in die kombuis. Omring deur kombuispersoneel, vra die speler na die
toiletsleutel. 'n Koor van stemme antwoord melodieus - maar die
speler kan nie agterkom wat die antwoord is nie. Nader 'n spesifieke
personeellid. Kry 'n spesifieke antwoord, en die sleutel. Die koor
begelei die speler weer uit die kombuis uit, soos die speler se
'totsiens' beantwoord word.
********************************
D-dag
breek aan, na 'n suksesvolle kleedrepetisie die voorafgaande
Donderdagaand. Snerpende koue begroet Bloemfontein op Bastilledag.
Soos die spelers van 12-uur die middag begin aankom om gereed te
maak, rapporteer hulle temperature (volgens hul voertuigtermometers)
van 4 Grade Celsius, 5 Grade Celsius. Die maksimum vir die dag sou 'n
volle 6 en 'n half Grade Celsius wees, gemeet teen omstreeks 2-uur
die middag...
'n
Paar senuweeagtige oomblikke gaan die vertoning vooraf, soos wat die
spelers se maagvlinders begin rigting kry. Uiteindelik vlieg die
meeste spelers se vlinders darem in gelid.
14:20
breek aan, skaars tien minute voor die toneelstuk se geskeduleerde
begin, en 'n hele drie gehoorlede het reeds hul sitplekke ingeneem,
twee in rolstoele, en een met 'n loopraam. Die tuisgemaakte klankbaan
speel lustig voort oor 'n fris stel luidsprekers - Sophia Loren koer:
"Doctor, I'm in trouble..." - Peter Sellers antwoord:
"Oooh, goodness, gracious me..." Een gehoorlid tik-tik met
sy voet op die grond, op die ritme van die klankbaan.
Een
van die rolstoelryers is die vrou wat haar man onlangs aan die dood
afgestaan het - 'n speler is bly sy kon dit toe darem maak na die
toneeluitvoering toe, en help haar om haarself darem in die bietjie,
flou, beskikbare son te posisioneer. Ongelukkig kom daar bietjie wind
in deur 'n skuifdeur, op haar gekose sonplek. Sy sê dat dit nie 'n
probleem is nie - sy soek die son, die son soek sy. Raak aan die
gesels met die ander rolstoelryer:
"Hoe
oud is jy dan nou?"
"Ses
en tagtig..."
"Oooo...ek
dog jy's twee en tagtig! Ek is agt en tagtig..."
"Sjoe,
maar jy lyk nog goed, hoor!"
Staaaadig
maar seker begin die gehoorlede naderbeweeg - die persoonlike
afkondiging in al die kamers - na middagete - het blykbaar vrugte
afgewerp. Warm middagslapies word opgeoffer. Die toneelgeselskap
staan as't ware in erewagformasie by die saaldeur - as gevolg van
beperkte spasie.
Die
naderskuifelende gehoor, so asof in "stadige aksie", begin
individueel al van vér
af gesels met die akteurs: oor die koue, oor die toneelstuk, oor
ditjies, oor datjies. Spontaan word alle gehoorlede met 'n handdruk
deur die akteurs verwelkom, bo-arms word wedersyds sagkens gedruk...
nog 'n paar rolstoele, 'n paar looprame, 'n vierpootkierie of twee,
vergesel van die gehoorlede.
'n
Sagmoedige, stil vrou - dik, geruite jas, met 'n warm kappie
opgeslaan, en die mees sielvolle oë
denkbaar - begin by die eerste akteur, die mooi jonge wat die jong,
onervare nursie vertolk:
stap
tot voor die nursie
plaas
haar hande op beide die nursie se arms
kyk
diep, diep in die nursie se oë
in
"stadige aksie" beweeg haar gesig na die nursie
s'n
soen
die nursie
op die mond
glimlag
lief
Bullshitter-gladdebek-dokter
met sy blou lapskoentjies,
die
kwaai Suster met die formidabele presence,
die
hoogdrawende, bekommerde, Brahman-boervrou-mammie en
haar
pasiënt / slagoffer-seun (met die klem op 'slag-')
die
ietwat hoogdrawende narkotiseur, en
die
prokureur met die brandewyndeurdrenkte hart, laasgenoemde wat onlangs
in die toneelstuk gaan staan het
word
elkeen
individueel
vasgehou
van
oog tot oog bekyk
en
liefdevol gesoen
die
prokureur se hart vergeet vir 'n oomblik van sy drankbehoefte...
Die
vasberade man van die repetisie beweeg ook verby - deel handdrukke
uit - kry 'n waarskuwende oproep tot betaamlike gedrag vanaf 'n
personeellid. Plaas sy wysvinger op sy lippe en sê "Shhhh".
'n Paar ander mans, wat agter die vasberade man opgedam het tydens sy
waarskuwing, plaas ook hul wysvingers op hul lippe, en sê "Shhh",
terwyl hulle ondeund om hulle rondkyk.
Die
saal is stampvol teen 14:45 - die wag was die moeite werd.
En...
AKSIE! Daar spéél hulle..!
********************************
Die
akteur-prokureur se vrou en tweejarige sterretjie-popsie is ook in
die gehoor - kyk vir Pappa.
'n
Gehoorlid, 'n vrou, waarskynlik van onlangse, direkte Europese
afkoms, sit vir die grootste gedeelte van die 70-minuutlange
vertoning, met haar kop gedraai na die dogtertjie, en mymer-fluister
oor en oor:
"Bella,
Bella...
Bella,
Bella..."
'n
Toneel vind plaas waartydens die brandewynprokureur onder sy
narkosebedremmelde kamermaat se kombers inkyk, om iets in sy
suidelike omgewing te verifieer - dan bars die prokureur uit in 'n
onbeheersde lagbui...
"Nurse,
jy moet hier onder kom kyk, die enigste sny wat hy hier het, is die
een waarmee hy gebore is..! Hahahahahaha!!!"
Die
gehoor vind dit snaaks.
Die
vasberade-man-van-die-repetisie bars uit in 'n lagbui wat bykans dié
van die akteur ewenaar. Dit laat die res van die gehoor nog langer,
en nog harder lag...
'n
Oomblik van outentieke, intieme gemeenskapsteater..!
Op
'n stadium verskyn die bullshitter-gladdebek-dokter vir die
eerste keer, bril op sy neuspunt. Tipies. Die gehoor sê, soos een
mens: "Hooooooooo!" Kan aanvoel: hier kom 'n ding...
Later
staan die prokureur uit sy stoel op - beskuit, droëwors, en 'n vrug
rol oor die vloer - hy het dit onder sy japon weggesteek. Die
vasberade-lagbui-man spring onmiddellik op, en stap vasberade na die
akteurs toe, vanuit die gehoor. 'n Akteur gee 'n teken aan die res
van die geselskap, en almal vries, ten einde die onderbreking te
bestuur. Die souffleur weet nie wat aangaan nie, sy kan nie die
gebeure sien nie, probeer die akteurs so ver kry om weer te begin
praat, maar gee klaarblyklik op, na 'n paar pogings...
Die
vasberade man tel al die eetgoed op, en deel 'n vyfsentstuk uit aan
elk van 'n paar van die akteurs, en verlaat die optredesaal. Die
toneelstuk word voortgesit, maar die man het klaarblyklik net gaan
piepie, met sy nuutge-"koopte" eetgoed by hom. Op pad terug
vries die toneelstuk weer, en word weer voortgesit, sonder insident,
tot die einde.
Klankbaan
word weer aangesit, die toneelgeselskap buig tydens lekker applous.
Erewag word weer gevorm, en die aankomstoneel van vroeër word
herhaal, in die teenoorgestelde rigting.
Glimlaggende
gesigte. Handdrukke. Bo-arm vasvatte.
Soene.
Weer wonderlik. Hierdie keer verwags.
'n
Vrou stop by die akteur-prokureur, knoop 'n geselsie aan, mense dam
agter haar op...
"Nou
weet ons wat julle aan ons doen as ons hospitaal toe moet gaan, né!"
"Ehh,
nee tannie, ek glo nie iemand sal so droogmaak met jou nie..!"
"Ek
het lekker vir julle gelag, hoor!"
"Baie
dankie, dit is 'n voorreg om voor julle te kon optree."
Die
vrou beweeg verby, en die ry vloei weer staaadig na buite die saal.
'n
Man en vrou, wat dalk 'n paartjie kan wees, hou ook stil langs die
akteur-prokureur - bekommernis op hul gesigte:
"Julle
moet net kyk na wat daardie man-met-die-vyfsente alles gesteel het,
hoor. Ons dink hy het dalk ander goed ook gesteel."
"Ehh,
baie dankie, ons sal dit opvolg. Lekker middag vir julle. Dankie dat
julle kom kyk het!"
"Totsiens."
"Totsiens."
********************************
Die
toneelgeselskap drink koffie, breek stel af, vervoer dit na die
volgende optreeligging.
Die
akteur-prokureur ry omstreeks 17:30 terug huis toe - sy bakkie se
termometer rapporteer 'n skamele 5 Grade Celsius. Maar hy voel lekker
warm, op soveel vlakke... en dink, sommer hardop:
"Die
rolstoel-pyproker was toe dalk te besig om te kom kyk..."