Tuesday, January 31, 2012

Ek het nie die "balls" nie...nie soos my vrou nie...


24 Januarie, 2012. 18:28. Kasteel Nommer Twee.

Ek is definitief 'n man, so ver ek kan sien, maar ek het nie die balls nie... nie soos JOUNE nie...

Ek onthou JOU laaste skree, ek onthou jou eerste... sal dit nooit kan vergeet nie.

Wil nie.

Druppels op die vloer - teen my kaal onderbene, op my gunsteling stap-kortbroek, my Nike sokkies, my Salomon stapskoene made in China.

Ek het jou self gevang toe jy wou val, en jou aan JOU besorg.

Jy is die ene vernix...vernix verruil ek jou nie, of JOU nie...of haar nie.

Ons...drie uit vier... nie voltallig nie.

Nog nie.

Sy wag 3 kilometer ver in 'n kasteel...ons kasteel... Hierdie kliniese makeshift kasteel is so tydelik as wat die landswette toelaat. 6 ure van 18:28 af...tiek-tok-tiek-tok...

Trane...oor die lewe...die verstomming wat dit soms bring...

Die drie vreemdes by ons raak ook aangedaan, op 'n streep, wat gedurende JOU en jou 12 en 'n half uur marathon minder en minder vreemd geword het - ons ses het eintlik 'n klein inboorlingstam geword.

Saamgedans, geblaas, gehyg, gewroeg, amper soos 'n mees oeroue stamritueel. Raad gegee, alles saamgedoen, al is baie van die saamdoen net in gees...

JY het vanoggend skuins voor ses gepraat van korter entjie stap as gewoonlik - JY het 'n swaarheid onder in JOU maag gevoel.

Teen tienuur was JY al halfpad...my hart het getimmer hier aan my binnekant!

Uiterlik was ek so koel en kalm soos net ek kan wees - maar ek dink JY kon sien hoeveel angs ek het...want laas keer was maar nag...reg deur die nag...

Ek wou nie weer nag ervaar nie - ek dink JY ook nie.

Hierdie keer het ons op 'n nag-noot weggespring, al was dit dag: bakboord na stuurboord van een kliniese kasteel na 'n tweede, en my testosteroon ontplof toe Nar Nommer Een in my gesig vir my lieg by Kasteel Nommer Een:

"Ons is werklikwaar daar vir julle, maar julle mag nie hier skuil nie. Gaan asseblief na 'n ander kasteel toe. Hierdie is 'n saak tussen ons ridder-komitee en die ridder wat julle wou gebruik vir beskermende begeleiding..."

JY begin huil - ek krimp ineen toe ek besef ek maak nou droog - raas met myself:

"Sit weg daai testosteroon-swaard! Jy word soos Kasteel 1 se Nar!"

Kom ons klim in ons strydwa en gaan na Kasteel 2 toe, met die Ongure-Persoon aan die spits van sake, en al die herrinneringe van 12 November 2009 daarin opgesluit...

hallo?

Toe ons instap, met JOU en jou al amper driekwart-pad op JULle reis, toe is Ongure Persoon op pad uit - skof klaargemaak. En die drie vreemdes wat ons nou bystaan, ontwikkel elk, soos die dag verder en verder ontsluit, 'n...

halo!

Ons hoofgerub lei JOU vreesloos deur Kasteel Nommer Twee se gange, trappe op en af, sodat jy vinniger aankom... JY beur deur JOU pyn, JOU hele wese bewe soos 'n fibrillasie hier teen my...

Maar JY hou aan, en JY hou aan... en ek word stiller, en stiller, en rustiger...in JOU teenwoordigheid - JY weet wat JY wil hê... en JY gaan dit vandag, hier, op hierdie Dinsdag kry...

...en ek weet hoekom is ek nie my vrou nie...want ek is nie sterk genoeg nie...sulke balls, die het ek nie...

JY is my lief...en jy, en sy...

Laaskeer het JY en sy bykans 20 ure gestoei en gedans, en op die laaste nipper het haar Petro-koppie vasgeskroef, aan die binnekant - sou nie verder begelei kon word nie - jaag Kasteel Nommer Twee toe...en hulle moet toe 'n kunsmatige deur maak waardeur sy kon uit... Dankbaar vir gesonde-almal, maar nag vir ons precious plannetjies... Mari-bitter... Mari-nag was erg... al die werk - 20 uur sonder ophou, net om te hoor: "Kan nie klaarmaak wat JY só graag wou klaarmaak nie".

Petro-Mari wag vir ons...Ousus met die groot blou oë... en die chutzpah wat net die resultaat kan wees van 2 jaar se eksklusiewe blootstelling aan my en JOU...dink ek... : )

En Engel-Anna waak oor haar...

Al 6 van ons raak al meer gefokus - 5 buite, en 1 binne. Maar nie vir lank nie...

Soos die pyngolwe oor JOU spoel beweeg ek en JY al nader aan mekaar, JOU arms om my nek. 'n Primitiewe trance-dans... JY genereer diep bastone vanuit jou dieptes om die golwe aan te durf...ek raak nog stiller, word 'n aktiewe luisteraar en mede-danser. JY lei / ly... Ek volg JOU, tree vir tree, stap vir stap...

Ek dink ons het ons 10-jaar-saam gevier 9 maande terug... : ) Dit is asof hierdie dans die afsluiting is van daardie skeppingsdans... die voltooiing van 'n siklus...

Kan nie anders as om JOU primal drone-humming te begroet met my eie nie - my testosteroon het totaal verdwyn...

Ons word weer een...

En toe word ons vier...

JY bad 'n oorwinningsbad terwyl ek die vernix-mannetjie "kango" op my kaal bors - stap-wieg om en om in ons ou klein kamertjie en neurie Negro Spirituals vir hom... Hy blyk daarvan te hou...ek sing hom aan die slaap (kon nie te moeilik gewees het nie, want hy moes ook moeg gewees het van so lank met sy mamma dans / stoei!)

Maar ek claim die aan-die-slaap-sing prestasie, baie dankie!

Na 'n driekwartier word jy effens wakker en begin soos 'n Kreepy Krauly op my bors rond te suig vir iets wat ek jou nie kan gee nie. JY keer terug van jou bad en daar gebeur 'n konneksie met hom...wat ek nooit sal ervaar nie...

Ek en JY gesels en kuier die minimum-6-ure-in-die-kasteel om, wat volgens wet aan ons voorgehou word... ek staan langs JOU bed om wakker te bly, en staar stip na die verkeersligte op die hoek van Parfitt en Kellner: Rooi, Groen, Geel, Rooi...

00:30 teken ons uit, en die lig word vir ons permanent groen - sy wag vir ons drie...al slapies sy, sy wag... sy, wat om 7:06 op 12 November 2009 gearriveer het.

Maar iets was vir my nie voltooi nie.

Tot vanaand.

Daar het 'n gevoel van voltooiing gekom wat ek nie kan beskryf nie...ek kan dit net aanvoel...ervaar... soos Engel-Anna aan ons die huissleutels oorhandig...

En Lou Reed se Perfect Day-woorde eggo in my gedagtes, en in my hart:

"Oh it's such a perfect day,
I'm glad I spent it with YOU.
Oh such a perfect day,
YOU just keep me hanging on,
YOU just keep me hanging on.

Just a perfect day,
Problems all left alone,
...
Just a perfect day,
YOU made me forget myself.
I thought I was someone else,
Someone good."

"Pappa, hier is nog poefies van Grietjie en Googles! Kom tel dit op!!!" Petro-Mari, my hondebolverkenner, ruk my terug na die werklikheid van 31 Januarie 2012.

JY roep. [Heinrich se poepertjie het weer pampoengeel puree gepomp...en dis my beurt vir geel vingers...]

Die wasmasjien klak-klak van my Salomons...

Wat 'n kakofonie!

Of eerder 'n kakofoniese passasie binne 'n majestueuse simfonie?

Ja, dis hoe dit vir my klink...

Monday, January 23, 2012

'n Geysde Tafel In Die Namibwoestyn? En Vandag?

Dit was die jaar 2008 - Juniemaand. 
Namibwoestyn. Naukluft-gedeelte. 
8-dag staptoer. 120km. 
Karige skuilings. 
Slaap op die woestynvloer.
Matige dae - ysige nagte.
Ons 2 en 7 ander mense. 
En bokke en zebras en luiperds en bruin-hiënas. 
En bobbejane.

Elke dag was uitdagend. Fisies moeilike boulder-hopping en baie op-en-afklimwerk. Met al 8 dae se bagasie op ons rug. By 'n 15 meter krans wat ons loodreg moes uitklim met net 'n losserige ketting tot ons beskikking, het al die dames gehuil, behalwe Anneline - MY dame...
Die totale ervaring onvergeetlik.  
Once in a lifetime.
Ons strompel by die beginpunt se kantoor in na die 8 dae en die baie-meer-as-120km (swak aanwysings, nogal baie verdwaal) - die man agter die toonbank, 'n man van Rehoboth se wêreld (hy het my vertel), genaamd Skrijver (amptelik, volgens sy lapelwapen).
Hy vra of ek 'n bier soek. Ek soen hom...amper...Ek vra waar die nektar dan sou skuil, want ek sien nie 'n yskas in die tradisionele sin van die woord nie.
Hy antwoord dat dit daar om die hoek in die kisvrieskas is, en vra by voorbaat om verskoning - dit is al 'n bietjie lank in die vrieskas, hy wou dit net vir so 45 minute inlos, dan is dit so halfpad geys. 
"Dit is dalk al driekwart geys, jammer!"
Ek soen hom...amper...weer.
Die oopmaak van die vrieskas en afruk van die doppie met die oopmaker wat aan 'n toutjie langs die vrieskas hang, moes baie vinnig gebeur het, want ek kan niks van hierdie aksies onthou nie.
Al wat ek kan onthou van die gebeure, word deur die volgende foto vertel, wat Anneline geneem het ('n duisend woorde mag dalk nie nodig wees nie):


Ek het vanmiddag weer die geysde Tafel Lager-ervaring geskep - 'n lang, uitmergelende, onnodig-administratiewe dag...is verby.

Tsjjjjj....die bottel begroet my oopmond - niks van die oomblik ontsnap hierdie keer nie... 

Tuesday, January 17, 2012

Human Development: Are you Nauti-, or are you -lus?


Ek moet bieg, die titel van hierdie blog is aspris gedokter om aandag te trek... Jammer! Maar ek is bly jy is hier...

Ook kan dit gesien word as 'n parodie op die Vodacom "Are you free or are you dom" trefferadvertensie van so 'n tydjie gelede, wat uiteraard 'n baie ernstige advertensie was... : ) Jammer Vodacom! Maar ek is 'n Vodacom intekenaar, so ek verdien die geleentheid... Groot asseblief, o grote korporatiewe monsters?
Die prentjie hierbo is van die Nautilus-skulp, of seilslak (ek verkies die eerste benaming, die slak-ene skryf glads te slymerig, en ek het net vanoggend my skootrekenaar se knoppies skoongemaak...). 

Voor jy hier lees, is dit dalk goed om 'n paar oomblikke met hierdie Nautilus-skulp te spandeer - bekyk dit, dink daaroor, wonder 'n bietjie, verwonder 'n bietjie...

Ek het nog nie 'n beter beeld teëgekom rakende die beskrywing van menslike ontwikkeling nie, altans, wat menslike ontwikkeling KAN wees: 

Die Nautilus-spesie oorleef al bykans 450-500 miljoen jaar deur sy manier-van-doen, en word tereg as 'n lewende fossiel beskou. Sy method is dus deur dik en dun beproef, en dit WERK! Tried and trusted...

Die Nautilus skulp word bewoon deur 'n diertjie, die Nautilus, wat gebore word met 'n vierkamer-skulpie. Piepklein... Amper soos 'n oseaniese starter-pack.

Maar dan eet hy, en dan groei hy, en dan word sy vierkamerplekkie te klein. Hy gebruik dan sy oorspronklike "dak" as sy nuwe vloer, bou vir hom 'n groter kamer, en trek soontoe.

Sak en pak. Klink soos my oupa Hannes, en my pa - kon / kan nooit ophou aanbou nie...

Hy seël sy voormalige "plafon" om die nuwe vloer te voltooi. 

En so gaan dit aan deur sy (ten minste) sestien lewensjare: Neem in, groei sy huidige kamer vol, bou groter, trek na 'n groter kamer toe, ou plafon word nuwe vloer... 

Die ontwikkeling van die Nautilus skulp verteenwoordig die sogenaamde Goue Verhouding (wat 'n noue verbintenis met die befaamde Fibonacci-reeks het) van plus-minus 1.6180339887 .... as aspekte van die volgende, groter kamer met aspekte van die die vorige, kleiner kamer vergelyk word. 

Geen ander verhouding het al meer inspirasie en bepeinsing onder kunstenaars, argitekte, wiskundiges ens. versoorsaak nie, volgense sekere bronne.

Om myself in die "skoene" van die Nautilus te plaas, en terug te kyk, vanuit my huidige, ruimste kamer ooit, na al die vorige kamers tot by my oorspronklike 4-kamerplekkie (ouers + eet + vuil doeke + slaap?), is regtig inspirerend, vir my.

So, hoekom gaan ek so aan oor die Nautilus?

Want, 'n mens met 'n vierkamer-starterpack-skulpie van talente, persoonlikheid en omgewing (nature en nurture), wat die regte method geleer word rakende hoe die lewe werk, en KAN werk, kan sy hele lewe lank bou en groei, en bou en groei...

Jaar in, jaar uit...en dan uiteindelik terugkyk op die asemrowendste lewenskulp?

Hierdie uiters persoonlike body of work wat so eie is aan die individu wat dit geLEEF het!

Wow, what opportunity, for everyone!

NS. Ek dink ek gaan hierdie vir ons politici stuur - dit is volgens my van toepassing op elke mens op aarde, maak nie saak waar jy jou bevind nie. 
NSS. Ek is net bang dat die regeringsamptenare sal dink Fibonacci is 'n Italiaanse klerevervaardiger? : | Of hopelik het hulle ook al Google ontdek, soos ek? : )

Wednesday, January 4, 2012

Kerveerde lingSpel het sy doorvele...

En daar wandel ek, Lieng en Lalliepot toe weer op ons oggendroete deur boomryke strate. Strate wat lekker breed is. En lekker stil is. Veral voor 6-uur in die oggend.

[Kantaantekening: ek het opgehou om die internasionale tydformaat in teksboodskappe en op blogs, en in e-posse, en op servette, te gebruik, daar sluip te veel foute in, 14:00 word as 4-uur gelees, 16:00 as 6-uur, ensovoorts... Totsiens internasionale formaat!]

Die troetelpou op die hoek pronk op die hoogste dak van die drie huise wat hy klaarblyklik as tuistes aangeneem het. Die selfoontoringdassie is ook weer op sy pos - sy wakker gesiggie is baie vermaaklik vir Petro-Mari.

Ons groet vir Pietro en Sienta, twee vriendinne wat ons letterlik elke oggend, Maandag tot Vrydag raakloop - hulle "vat af" oor naweke en openbare vakansiedae. Hulle spreek hul verbasing uit dat Lieng nog nie gekraam het nie. Soos gewoonlik. : )

Ons draai links in 'n heerlike straat, oggendsonnetjie op ons rugkante (hy sou ons later in die dag BRAAI tot by 36 Grade C(!)), koel oggendbriesie in ons gesigte, toe die soel oggend eweskielik 'n skewe smakie kry.

Eerstens as gevolg van die klaarblyklike gebrekkige taalopvoeding wat deesdae in ons land geskied. Tweedens omdat iemand die vermetelheid gehad het om die woord "PEOS" op die teerpad te spuitverf... My innerlike skoolseun het net een gevolgtrekking kon maak, maar ek besluit om nie so gou te oordeel nie, en ons voltooi ons oggendstappie.

Later in die dag Google ek die woord, net om uit te vind dat my innerlike skoolseun hoogs waarskynlik in die kol was... Soos 'n soortgelyke insident toe ons nog in Pretoria gebly het: iemand het op die teerpad gespuitverf:

"Jou ma se EPOS!"

My afsluitingsgedagtes is dus as volg:

SEIS! BLOU JIKSEM!

Monday, January 2, 2012

Vervloekte vuurwerke...kon Scuds gewees het...

Eisj, maar Oujaarsaand was lekker - potjiekos, goeie geselskap, Amstel, rooiwyn, Panacotta-poeding... Mmm...mmm...mmm!

Maar toe die horlosie 23:00 se kant toe staan, begin die omgewing ontplof...Griet en Googles (ons honne) maak hulle broeke nat - kry regtig swaar - ontsettend sensitiewe ore... Ek pyn sommer namens hulle...

Ons laat hulle inkom, binne die huis in die stilste hoekie moontlik, en ek probeer hulle rustig hou met sawwe kitaarmusiek, maar ek word moeg, want die dag was lank!

Gaan slaap, net om elke paar minute wakker te word van die honde se gehuil, of Petro-Mari se gehuil, of 'n kombinasie van altwee...

So 'n onwerklike nag van ontploffings - wonder hoe sou dit gewees het in 'n area waar dit lewensbedreigende ontploffings is, soos Palestina / Israel? Ek wonder hoe gaan dit met die mense en die honde daar? Moet nag wees... elke dag...

Ek het eenmaak skouers geskuur met 'n Israeli genaamd Michael Lazan, wat vredeswerk doen, onder andere ook in Israel / Palestina. Hy vertel toe dat daar twee "sones" in Israel is:
"Sone" 1, waar die ou Scud missiele kan tref. As ek reg onthou, is dit binne 40km van die Palestynse grens.
"Sone" 2, waar missiele kan tref wat verder as die Scuds kan vlieg...

Dit nou in vergelyking met hoe ek na my omgewing kyk, en in watter sones ek my omgewing indeel...bisar!

Die ongemak en werklike pyn wat ons en ons honde een maal per jaar moet verduur met die onwettige vuurwerke wat so rojaal ontplof, kan seker nie begin om op te weeg teenoor dit wat die Palestyne en Israeli's elke dag beleef nie?

En dan onthou ek nog die dae, so 2 en 'n half na 3 dekades gelede, hoe ek grootoog, vol verwondering, voor Eleanorstraat 313 in Garsfontein, Pretoria, op Oujaarsaande staan en kyk het na ons buurt se vuurwerkvertoning, en self ook daartoe bygedra het...

Terug na eergisteraand:
En ek hoor so tussen al die kartetse deur, hoe jil Henry-hulle se kinders twee huise van ons af van plesier vir hulle "crackers"...

As die honde, katte en ander diere net nie so getraumatiseer was daardeur nie...

Waar's die goue middeweg? Of moet ons maar die plesier probeer balanseer met die pyn?

Vir altyd?