Wednesday, July 25, 2012

Toneelstuk, Bastilledag, 2012


Verhoogstories
Stories oor ervarings van 'n toneelgeselskap

'n Toneelstuk op Bastilledag, 14 Julie 2012
Gebaseer op 'n ware verhaal
© Werner Schmidt, 2012

Die ooreenkoms word beklink om op te tree. Die toneelgeselskap, bestaande uit sewe spelers, begin repeteer in die intieme saal waar die stuk opgevoer gaan word. D -dag is Saterdag, 14 Julie 2012, om 14:30. Bastilledag.

Dinsdagaande vanaf 5:30 werskaf die toneelgroep in die optreeruimte, en soms by die stigter se huis.

'n Pyprokende man in 'n ou rolstoel met 'n rooigeverfde raam, is teenwoordig, elke Dinsdagmiddag, soos die toneelgeselskap aan- en verbykom vir hul repetisie, dié kere wat hulle wel in die optreeruimte repeteer. Hy parkeer sy rolstoel sodat hy weswaarts kyk, deur die duiwelsvurkomheining, na die besige straat, wat mense huiswaarts voer. Hy is gewoonlik sowat 3 meter van die voetpaadjie af, wat na die saal lei.

'n Akteur of twee begin hier en daar kort geselsies met hom aanknoop, soos hulle verbyloop, stukke van die stel verbydra, so aan. Hy praat nie baie nie, maar begin tog 'n bietjie meer spraaksaam word, soos D-dag nader kom. Ten minste een van die akteurs is opnuut dankbaar vir relatief skeetlose bene.

"Middag, hoe gaan dit vanmiddag?"
"Dit gaan goed."
"Ek is bly om dit te hoor. Gaan jy na ons toneelstuk kom kyk op Saterdag, 14 Julie?"
"Hoe laat gaan dit wees?"
"Ons begin amptelik 2:30 in die middag."
"O, ehh, ek sal kyk of ek iets aan het..."
"Dit sal lekker wees om jou daar te sien."
"Is daai goed wat jy dra nie swaar nie?"
"Nee wat, die skerms is maar net bietjie ongemaklik, maar hulle is nogal lig."
"O. Lekker dra, hoor."
"Dankie, mooi bly."
Sy kop draai weer straat toe, teug diep aan sy pyp.

********************************

Die repetisies word langer, soos Bastilledag nader kom.



Een aand kom daar 'n inwoner van die kompleks ingeloop terwyl die repetisie in volle swang is. Loop reguit verby al die spelers, en gaan sit op 'n stoel. Vasberade. Sê nie 'n woord nie. Die spelers bondel saam, 'n entjie van hom af, om sy teenwoordigheid te bespreek. Sommiges meen hy kan maar sit en die repetisie geniet, ander wil hê dat hy die lokaal verlaat. 'n Speler nader hom direk. Hy staan op, soos die speler nader kom. Instinktief neem die speler hom aan die bo-arm. Sagkens.

"Goeienaand, kan ek jou dalk na jou kamer toe vergesel?"
"Waar is my kamer?"
"Ek weet nie."
"Ek weet ook nie, so ek bly net hier." waarop die akteur sy arm los.

Die toneelgeselskap bondel weer saam - om te besluit wat om te doen.

"Gaan roep 'n personeellid," sê een.
"Ek dink nog steeds ons kan hom laat bly," antwoord 'n ander.

Die speler wat 'n oomblik gelede misluk het om die man na sy kamer te neem, verlaat die lokaal, op soek na 'n personeellid. Die gange is nogal donker. Hy vind 'n personeellid in 'n uniform, en voel verlig. Verduidelik die situasie. Die personeellid dui aan dat hierdie man gereeld so optree, en stap vooruit, na die repetisielokaal toe.

Na 'n kort, konflikbelaaide woordewisseling kom die personeellid en die man uitgestap. Laasgenoemde word deur eersgenoemde aan die arm gelei. 'n Speler groet die man, maar hy kyk die speler net stip aan, soos hy stadig verbybeweeg...

********************************

Die Woensdagaand, voor Bastilledag, word die eerste van twee kleedrepetisies gehou. 'n Speler verlaat vir 'n oomblik die saal, om 'n draai te gaan loop.

'n Vrou in 'n rolstoel - meer modern as die pyproker s'n - kom die speler tegemoetgery... Angs op haar gesig, huilerige stem. Praat vinnig.

"Waar kan ek gaan, ek is nuut hier, ek sal doodgaan in my kamer, ek het my man verloor, ek soek net ander mense..."

Die speler vat aan haar arm, en kyk haar stip in die oë.

"Ek is baie jammer om dit te hoor."
"Baie dankie, wat is jou naam?" vra sy, heelwat stadiger, en minder angstig.

Die speler se naam word genoem, en 'n verduideliking word verskaf rakende hoekom die speler nie weet waar daar ander mense is nie. Die speler onderneem om 'n personeellid te gaan soek. Daar brand 'n kantoorlig in die gang af, en die speler gaan die kantoor binne. 'n Personeellid-in-uniform ontvang die situasie, en vra 'n beskrywing van die vrou in die rolstoel.

Die personeellid loop vooruit, en na 'n kort woordewisseling, word die vrou in haar rolstoel weggewiel.
********************************

Tydens die finale kleedrepetisie, kom die geselskap agter dat die gebruiklike kontakpersoon nie die toiletsleutel aan hulle gegee het nie - en 'n speler gaan soek elders in die kompleks vir iemand met so 'n sleutel. Dit is relatief dringend.

Beland in die kombuis. Omring deur kombuispersoneel, vra die speler na die toiletsleutel. 'n Koor van stemme antwoord melodieus - maar die speler kan nie agterkom wat die antwoord is nie. Nader 'n spesifieke personeellid. Kry 'n spesifieke antwoord, en die sleutel. Die koor begelei die speler weer uit die kombuis uit, soos die speler se 'totsiens' beantwoord word.

********************************

D-dag breek aan, na 'n suksesvolle kleedrepetisie die voorafgaande Donderdagaand. Snerpende koue begroet Bloemfontein op Bastilledag. Soos die spelers van 12-uur die middag begin aankom om gereed te maak, rapporteer hulle temperature (volgens hul voertuigtermometers) van 4 Grade Celsius, 5 Grade Celsius. Die maksimum vir die dag sou 'n volle 6 en 'n half Grade Celsius wees, gemeet teen omstreeks 2-uur die middag...

'n Paar senuweeagtige oomblikke gaan die vertoning vooraf, soos wat die spelers se maagvlinders begin rigting kry. Uiteindelik vlieg die meeste spelers se vlinders darem in gelid.

14:20 breek aan, skaars tien minute voor die toneelstuk se geskeduleerde begin, en 'n hele drie gehoorlede het reeds hul sitplekke ingeneem, twee in rolstoele, en een met 'n loopraam. Die tuisgemaakte klankbaan speel lustig voort oor 'n fris stel luidsprekers - Sophia Loren koer: "Doctor, I'm in trouble..." - Peter Sellers antwoord: "Oooh, goodness, gracious me..." Een gehoorlid tik-tik met sy voet op die grond, op die ritme van die klankbaan.

Een van die rolstoelryers is die vrou wat haar man onlangs aan die dood afgestaan het - 'n speler is bly sy kon dit toe darem maak na die toneeluitvoering toe, en help haar om haarself darem in die bietjie, flou, beskikbare son te posisioneer. Ongelukkig kom daar bietjie wind in deur 'n skuifdeur, op haar gekose sonplek. Sy sê dat dit nie 'n probleem is nie - sy soek die son, die son soek sy. Raak aan die gesels met die ander rolstoelryer:

"Hoe oud is jy dan nou?"
"Ses en tagtig..."
"Oooo...ek dog jy's twee en tagtig! Ek is agt en tagtig..."
"Sjoe, maar jy lyk nog goed, hoor!"

Staaaadig maar seker begin die gehoorlede naderbeweeg - die persoonlike afkondiging in al die kamers - na middagete - het blykbaar vrugte afgewerp. Warm middagslapies word opgeoffer. Die toneelgeselskap staan as't ware in erewagformasie by die saaldeur - as gevolg van beperkte spasie.

Die naderskuifelende gehoor, so asof in "stadige aksie", begin individueel al van vér af gesels met die akteurs: oor die koue, oor die toneelstuk, oor ditjies, oor datjies. Spontaan word alle gehoorlede met 'n handdruk deur die akteurs verwelkom, bo-arms word wedersyds sagkens gedruk... nog 'n paar rolstoele, 'n paar looprame, 'n vierpootkierie of twee, vergesel van die gehoorlede.

'n Sagmoedige, stil vrou - dik, geruite jas, met 'n warm kappie opgeslaan, en die mees sielvolle oë denkbaar - begin by die eerste akteur, die mooi jonge wat die jong, onervare nursie vertolk:

stap tot voor die nursie
plaas haar hande op beide die nursie se arms
kyk diep, diep in die nursie se oë
in "stadige aksie" beweeg haar gesig na die nursie s'n
soen die nursie op die mond
glimlag
lief

Bullshitter-gladdebek-dokter met sy blou lapskoentjies,
die kwaai Suster met die formidabele presence,
die hoogdrawende, bekommerde, Brahman-boervrou-mammie en
haar pasiënt / slagoffer-seun (met die klem op 'slag-')
die ietwat hoogdrawende narkotiseur, en
die prokureur met die brandewyndeurdrenkte hart, laasgenoemde wat onlangs in die toneelstuk gaan staan het

word elkeen
individueel
vasgehou
van oog tot oog bekyk
en liefdevol gesoen

die prokureur se hart vergeet vir 'n oomblik van sy drankbehoefte...

Die vasberade man van die repetisie beweeg ook verby - deel handdrukke uit - kry 'n waarskuwende oproep tot betaamlike gedrag vanaf 'n personeellid. Plaas sy wysvinger op sy lippe en sê "Shhhh". 'n Paar ander mans, wat agter die vasberade man opgedam het tydens sy waarskuwing, plaas ook hul wysvingers op hul lippe, en sê "Shhh", terwyl hulle ondeund om hulle rondkyk.

Die saal is stampvol teen 14:45 - die wag was die moeite werd.

En... AKSIE! Daar spéél hulle..!

********************************

Die akteur-prokureur se vrou en tweejarige sterretjie-popsie is ook in die gehoor - kyk vir Pappa.

'n Gehoorlid, 'n vrou, waarskynlik van onlangse, direkte Europese afkoms, sit vir die grootste gedeelte van die 70-minuutlange vertoning, met haar kop gedraai na die dogtertjie, en mymer-fluister oor en oor:

"Bella, Bella...
Bella, Bella..."

'n Toneel vind plaas waartydens die brandewynprokureur onder sy narkosebedremmelde kamermaat se kombers inkyk, om iets in sy suidelike omgewing te verifieer - dan bars die prokureur uit in 'n onbeheersde lagbui...

"Nurse, jy moet hier onder kom kyk, die enigste sny wat hy hier het, is die een waarmee hy gebore is..! Hahahahahaha!!!"



Die gehoor vind dit snaaks.

Die vasberade-man-van-die-repetisie bars uit in 'n lagbui wat bykans dié van die akteur ewenaar. Dit laat die res van die gehoor nog langer, en nog harder lag...

'n Oomblik van outentieke, intieme gemeenskapsteater..!

Op 'n stadium verskyn die bullshitter-gladdebek-dokter vir die eerste keer, bril op sy neuspunt. Tipies. Die gehoor sê, soos een mens: "Hooooooooo!" Kan aanvoel: hier kom 'n ding...

Later staan die prokureur uit sy stoel op - beskuit, droëwors, en 'n vrug rol oor die vloer - hy het dit onder sy japon weggesteek. Die vasberade-lagbui-man spring onmiddellik op, en stap vasberade na die akteurs toe, vanuit die gehoor. 'n Akteur gee 'n teken aan die res van die geselskap, en almal vries, ten einde die onderbreking te bestuur. Die souffleur weet nie wat aangaan nie, sy kan nie die gebeure sien nie, probeer die akteurs so ver kry om weer te begin praat, maar gee klaarblyklik op, na 'n paar pogings...

Die vasberade man tel al die eetgoed op, en deel 'n vyfsentstuk uit aan elk van 'n paar van die akteurs, en verlaat die optredesaal. Die toneelstuk word voortgesit, maar die man het klaarblyklik net gaan piepie, met sy nuutge-"koopte" eetgoed by hom. Op pad terug vries die toneelstuk weer, en word weer voortgesit, sonder insident, tot die einde.

Klankbaan word weer aangesit, die toneelgeselskap buig tydens lekker applous. Erewag word weer gevorm, en die aankomstoneel van vroeër word herhaal, in die teenoorgestelde rigting.

Glimlaggende gesigte. Handdrukke. Bo-arm vasvatte.

Soene. Weer wonderlik. Hierdie keer verwags.

'n Vrou stop by die akteur-prokureur, knoop 'n geselsie aan, mense dam agter haar op...

"Nou weet ons wat julle aan ons doen as ons hospitaal toe moet gaan, né!"

"Ehh, nee tannie, ek glo nie iemand sal so droogmaak met jou nie..!"

"Ek het lekker vir julle gelag, hoor!"

"Baie dankie, dit is 'n voorreg om voor julle te kon optree."

Die vrou beweeg verby, en die ry vloei weer staaadig na buite die saal.

'n Man en vrou, wat dalk 'n paartjie kan wees, hou ook stil langs die akteur-prokureur - bekommernis op hul gesigte:

"Julle moet net kyk na wat daardie man-met-die-vyfsente alles gesteel het, hoor. Ons dink hy het dalk ander goed ook gesteel."

"Ehh, baie dankie, ons sal dit opvolg. Lekker middag vir julle. Dankie dat julle kom kyk het!"

"Totsiens."

"Totsiens."

********************************

Die toneelgeselskap drink koffie, breek stel af, vervoer dit na die volgende optreeligging.

Die akteur-prokureur ry omstreeks 17:30 terug huis toe - sy bakkie se termometer rapporteer 'n skamele 5 Grade Celsius. Maar hy voel lekker warm, op soveel vlakke... en dink, sommer hardop:

"Die rolstoel-pyproker was toe dalk te besig om te kom kyk..."