Dagbreekverrassing
Ek het gisteroggend vir die eerste keer in baie maande weer die drafpad saam met 'n vriend, oom Theuns, gevat. Oom Theuns is in die omgewing van 70 jaar oud, draf sommige weke nog 70km, klokslag Maandag tot Vrydag van 4:30 - 6:00.Hy draf al so lank soos wat ek nou oud is...36 jaar...'n stuk of 12 Comrades'e agter die blad - veteraan in alle opsigte. Ek het groot agting vir iemand wat iewers in die lewe 'n besluit neem rakende iets wat hulle graag wil doen...en dit dan doen...en aanhou doen...en aanhou doen...en...
'n Bietjie van 'n skok op my sisteem om 4:00 op te staan - ons staan gewoonlik tussen 5:30 en 6:00 op vir ons gesinnetjie-oggendstappies...
Ons ontmoet by die ooreengekome punt, net so langs Willem Postma laerskool - oom Theuns sê ons gaan 'n "maklike" 9.5km deurwerk, sy "skokbrekers" is 'n bietjie "klaar" - dis nou die linkerknie...
[Ek onderbreek hierdie brokkie drafstorie met die nuus dat James Last en Georghe Zamfir sopas met hul optrede in my ore begin het - "The Lonely Shepherd" - ek dink ek gaan my musiekspeler op "repeat" sit... Hemels! ]
Ons spring weg teen 'n lekker gemaklike pas...gesels land en sand...hy borrel oor van die brokkies, en ek hou ook nie terug nie. Gooi brokkies!
Na ongeveer 'n derde van ons roete voltooi is, sien ons 'n man in 'n stokou, blou Corollatjie wat homself probeer "runstart" in Nelson Mandelarylaan, met die vroëe verkeer wat al redelik driftig begin woel deur die stad...maar hy sukkel! Ons is nie links nie of ons spring agter sy agterbuffer in en begin soos twee wafferse voorspelers ons "skrummasjien" vorentoe beur. Skree vir die man: "Okay, try it now?" Hy laat gaan die koppelaar, maar die karretjie ruk tot stilstand. Die trokke en motors ry rakelings by ons verby...
Dood soos 'n mossie...
Ek vra in watter rat is hy. "First gear". Ek beduie aan hom dat hy liefs tweede rat moet kies, en hy antwoord: "Sharp, sharp." Ons herhaal die roetine, en werk 'n lekker spoed op... Nee, die karretjie ruk weer tot by stilstaan - die voorwiele maak selfs so: "Ie, ie" soos ons prysenswaardige momentum afgetakel word deur die voertuig se onwilligheid.
Ek toets die man se aansitter - nie die kajuitliggie of enige van die ligte op die instrumentasiepaneel brand eers dof nie...
Ons besluit in oorlegpleging met die man dat ons hom gaan stoot tot by McDonald's se ingang, dan moet hy van daar af 'n plan maak. Ons werk vir 'n laaste keer 'n lekker momentum op, en laat vrywiel die man vir die laaste paar meter tot by sy bestemming.
Toe hy so geluidloos, behalwe vir een of twee wielmoere wat "tsjie-tsjie" voor ons uitwiel en indraai by McDonald's, let ek vir die eerste keer op die letterwerk op sy agterruit:
"Simply the best".
Nie vandag nie, ou maat, miskien more weer, maar nie vandag nie...
Ons voltooi ons roete, en oom Theuns nooi my in vir koffie - sy vrou, tannie 'Lena, slaap nog. Ek kry vir ons die ketel aan die gang - hy verdwyn vir 'n oomblik uit die kombuis, keer terug met twee handdoeke - gooi een om my skouers: "Jy moenie te gou afkoel nie, my ou maat." Jare se ondervinding wat daar praat. Na die lekker koffie en geselsies om hul kombuistafel vat hy my huis toe, in sy klein wit bakkie, waar my "girls" vir my wag, reg vir ons oggendstappie... net na dagbreek...
En wat 'n mooi dagbreek was dit nie.
E-verligting
Ek het vandag bietjie e-purgasie (brookl@X?) vir my rekenaar ingegee.
2 e-posadresse - gesamentlik 450 e-posse in die onderskeie inbokse.
3 ure toegelate tyd.
Skep 'n paar argiefleêrs vir sekere temas.
Begin liasseer teen hoogste versnelling.
"Unsubscribe" by maklik 20 eens onontbeerlike e-pos-diarree-instansies...hoekom het ek nou weer voorheen by hulle ge-"subscribe"?
Dalk om dieselfde rede wat ek soms gebruikte onderdele hou: Netnou kom hier eendag iets waardevol / bruikbaar hier uit...
Toe nie. Glad en geheel en al nie. Het ek my les geleer..? Sal Desember 2012, net voor die volgende wegraping, weer 'n bietjie terugskouiing pleeg...
2 ure en 48 minute later is ek die trotse bewaarder van slegs 12 e-posse oor twee e-posbusse heen. Regtig belangrike goed. Regtig.
Dit voel amper of ek weer gebore is..! : )
No comments:
Post a Comment