Tuesday, January 31, 2012

Ek het nie die "balls" nie...nie soos my vrou nie...


24 Januarie, 2012. 18:28. Kasteel Nommer Twee.

Ek is definitief 'n man, so ver ek kan sien, maar ek het nie die balls nie... nie soos JOUNE nie...

Ek onthou JOU laaste skree, ek onthou jou eerste... sal dit nooit kan vergeet nie.

Wil nie.

Druppels op die vloer - teen my kaal onderbene, op my gunsteling stap-kortbroek, my Nike sokkies, my Salomon stapskoene made in China.

Ek het jou self gevang toe jy wou val, en jou aan JOU besorg.

Jy is die ene vernix...vernix verruil ek jou nie, of JOU nie...of haar nie.

Ons...drie uit vier... nie voltallig nie.

Nog nie.

Sy wag 3 kilometer ver in 'n kasteel...ons kasteel... Hierdie kliniese makeshift kasteel is so tydelik as wat die landswette toelaat. 6 ure van 18:28 af...tiek-tok-tiek-tok...

Trane...oor die lewe...die verstomming wat dit soms bring...

Die drie vreemdes by ons raak ook aangedaan, op 'n streep, wat gedurende JOU en jou 12 en 'n half uur marathon minder en minder vreemd geword het - ons ses het eintlik 'n klein inboorlingstam geword.

Saamgedans, geblaas, gehyg, gewroeg, amper soos 'n mees oeroue stamritueel. Raad gegee, alles saamgedoen, al is baie van die saamdoen net in gees...

JY het vanoggend skuins voor ses gepraat van korter entjie stap as gewoonlik - JY het 'n swaarheid onder in JOU maag gevoel.

Teen tienuur was JY al halfpad...my hart het getimmer hier aan my binnekant!

Uiterlik was ek so koel en kalm soos net ek kan wees - maar ek dink JY kon sien hoeveel angs ek het...want laas keer was maar nag...reg deur die nag...

Ek wou nie weer nag ervaar nie - ek dink JY ook nie.

Hierdie keer het ons op 'n nag-noot weggespring, al was dit dag: bakboord na stuurboord van een kliniese kasteel na 'n tweede, en my testosteroon ontplof toe Nar Nommer Een in my gesig vir my lieg by Kasteel Nommer Een:

"Ons is werklikwaar daar vir julle, maar julle mag nie hier skuil nie. Gaan asseblief na 'n ander kasteel toe. Hierdie is 'n saak tussen ons ridder-komitee en die ridder wat julle wou gebruik vir beskermende begeleiding..."

JY begin huil - ek krimp ineen toe ek besef ek maak nou droog - raas met myself:

"Sit weg daai testosteroon-swaard! Jy word soos Kasteel 1 se Nar!"

Kom ons klim in ons strydwa en gaan na Kasteel 2 toe, met die Ongure-Persoon aan die spits van sake, en al die herrinneringe van 12 November 2009 daarin opgesluit...

hallo?

Toe ons instap, met JOU en jou al amper driekwart-pad op JULle reis, toe is Ongure Persoon op pad uit - skof klaargemaak. En die drie vreemdes wat ons nou bystaan, ontwikkel elk, soos die dag verder en verder ontsluit, 'n...

halo!

Ons hoofgerub lei JOU vreesloos deur Kasteel Nommer Twee se gange, trappe op en af, sodat jy vinniger aankom... JY beur deur JOU pyn, JOU hele wese bewe soos 'n fibrillasie hier teen my...

Maar JY hou aan, en JY hou aan... en ek word stiller, en stiller, en rustiger...in JOU teenwoordigheid - JY weet wat JY wil hê... en JY gaan dit vandag, hier, op hierdie Dinsdag kry...

...en ek weet hoekom is ek nie my vrou nie...want ek is nie sterk genoeg nie...sulke balls, die het ek nie...

JY is my lief...en jy, en sy...

Laaskeer het JY en sy bykans 20 ure gestoei en gedans, en op die laaste nipper het haar Petro-koppie vasgeskroef, aan die binnekant - sou nie verder begelei kon word nie - jaag Kasteel Nommer Twee toe...en hulle moet toe 'n kunsmatige deur maak waardeur sy kon uit... Dankbaar vir gesonde-almal, maar nag vir ons precious plannetjies... Mari-bitter... Mari-nag was erg... al die werk - 20 uur sonder ophou, net om te hoor: "Kan nie klaarmaak wat JY só graag wou klaarmaak nie".

Petro-Mari wag vir ons...Ousus met die groot blou oë... en die chutzpah wat net die resultaat kan wees van 2 jaar se eksklusiewe blootstelling aan my en JOU...dink ek... : )

En Engel-Anna waak oor haar...

Al 6 van ons raak al meer gefokus - 5 buite, en 1 binne. Maar nie vir lank nie...

Soos die pyngolwe oor JOU spoel beweeg ek en JY al nader aan mekaar, JOU arms om my nek. 'n Primitiewe trance-dans... JY genereer diep bastone vanuit jou dieptes om die golwe aan te durf...ek raak nog stiller, word 'n aktiewe luisteraar en mede-danser. JY lei / ly... Ek volg JOU, tree vir tree, stap vir stap...

Ek dink ons het ons 10-jaar-saam gevier 9 maande terug... : ) Dit is asof hierdie dans die afsluiting is van daardie skeppingsdans... die voltooiing van 'n siklus...

Kan nie anders as om JOU primal drone-humming te begroet met my eie nie - my testosteroon het totaal verdwyn...

Ons word weer een...

En toe word ons vier...

JY bad 'n oorwinningsbad terwyl ek die vernix-mannetjie "kango" op my kaal bors - stap-wieg om en om in ons ou klein kamertjie en neurie Negro Spirituals vir hom... Hy blyk daarvan te hou...ek sing hom aan die slaap (kon nie te moeilik gewees het nie, want hy moes ook moeg gewees het van so lank met sy mamma dans / stoei!)

Maar ek claim die aan-die-slaap-sing prestasie, baie dankie!

Na 'n driekwartier word jy effens wakker en begin soos 'n Kreepy Krauly op my bors rond te suig vir iets wat ek jou nie kan gee nie. JY keer terug van jou bad en daar gebeur 'n konneksie met hom...wat ek nooit sal ervaar nie...

Ek en JY gesels en kuier die minimum-6-ure-in-die-kasteel om, wat volgens wet aan ons voorgehou word... ek staan langs JOU bed om wakker te bly, en staar stip na die verkeersligte op die hoek van Parfitt en Kellner: Rooi, Groen, Geel, Rooi...

00:30 teken ons uit, en die lig word vir ons permanent groen - sy wag vir ons drie...al slapies sy, sy wag... sy, wat om 7:06 op 12 November 2009 gearriveer het.

Maar iets was vir my nie voltooi nie.

Tot vanaand.

Daar het 'n gevoel van voltooiing gekom wat ek nie kan beskryf nie...ek kan dit net aanvoel...ervaar... soos Engel-Anna aan ons die huissleutels oorhandig...

En Lou Reed se Perfect Day-woorde eggo in my gedagtes, en in my hart:

"Oh it's such a perfect day,
I'm glad I spent it with YOU.
Oh such a perfect day,
YOU just keep me hanging on,
YOU just keep me hanging on.

Just a perfect day,
Problems all left alone,
...
Just a perfect day,
YOU made me forget myself.
I thought I was someone else,
Someone good."

"Pappa, hier is nog poefies van Grietjie en Googles! Kom tel dit op!!!" Petro-Mari, my hondebolverkenner, ruk my terug na die werklikheid van 31 Januarie 2012.

JY roep. [Heinrich se poepertjie het weer pampoengeel puree gepomp...en dis my beurt vir geel vingers...]

Die wasmasjien klak-klak van my Salomons...

Wat 'n kakofonie!

Of eerder 'n kakofoniese passasie binne 'n majestueuse simfonie?

Ja, dis hoe dit vir my klink...

No comments:

Post a Comment