Monday, January 23, 2012

'n Geysde Tafel In Die Namibwoestyn? En Vandag?

Dit was die jaar 2008 - Juniemaand. 
Namibwoestyn. Naukluft-gedeelte. 
8-dag staptoer. 120km. 
Karige skuilings. 
Slaap op die woestynvloer.
Matige dae - ysige nagte.
Ons 2 en 7 ander mense. 
En bokke en zebras en luiperds en bruin-hiënas. 
En bobbejane.

Elke dag was uitdagend. Fisies moeilike boulder-hopping en baie op-en-afklimwerk. Met al 8 dae se bagasie op ons rug. By 'n 15 meter krans wat ons loodreg moes uitklim met net 'n losserige ketting tot ons beskikking, het al die dames gehuil, behalwe Anneline - MY dame...
Die totale ervaring onvergeetlik.  
Once in a lifetime.
Ons strompel by die beginpunt se kantoor in na die 8 dae en die baie-meer-as-120km (swak aanwysings, nogal baie verdwaal) - die man agter die toonbank, 'n man van Rehoboth se wêreld (hy het my vertel), genaamd Skrijver (amptelik, volgens sy lapelwapen).
Hy vra of ek 'n bier soek. Ek soen hom...amper...Ek vra waar die nektar dan sou skuil, want ek sien nie 'n yskas in die tradisionele sin van die woord nie.
Hy antwoord dat dit daar om die hoek in die kisvrieskas is, en vra by voorbaat om verskoning - dit is al 'n bietjie lank in die vrieskas, hy wou dit net vir so 45 minute inlos, dan is dit so halfpad geys. 
"Dit is dalk al driekwart geys, jammer!"
Ek soen hom...amper...weer.
Die oopmaak van die vrieskas en afruk van die doppie met die oopmaker wat aan 'n toutjie langs die vrieskas hang, moes baie vinnig gebeur het, want ek kan niks van hierdie aksies onthou nie.
Al wat ek kan onthou van die gebeure, word deur die volgende foto vertel, wat Anneline geneem het ('n duisend woorde mag dalk nie nodig wees nie):


Ek het vanmiddag weer die geysde Tafel Lager-ervaring geskep - 'n lang, uitmergelende, onnodig-administratiewe dag...is verby.

Tsjjjjj....die bottel begroet my oopmond - niks van die oomblik ontsnap hierdie keer nie... 

No comments:

Post a Comment