Tuesday, January 17, 2012

Human Development: Are you Nauti-, or are you -lus?


Ek moet bieg, die titel van hierdie blog is aspris gedokter om aandag te trek... Jammer! Maar ek is bly jy is hier...

Ook kan dit gesien word as 'n parodie op die Vodacom "Are you free or are you dom" trefferadvertensie van so 'n tydjie gelede, wat uiteraard 'n baie ernstige advertensie was... : ) Jammer Vodacom! Maar ek is 'n Vodacom intekenaar, so ek verdien die geleentheid... Groot asseblief, o grote korporatiewe monsters?
Die prentjie hierbo is van die Nautilus-skulp, of seilslak (ek verkies die eerste benaming, die slak-ene skryf glads te slymerig, en ek het net vanoggend my skootrekenaar se knoppies skoongemaak...). 

Voor jy hier lees, is dit dalk goed om 'n paar oomblikke met hierdie Nautilus-skulp te spandeer - bekyk dit, dink daaroor, wonder 'n bietjie, verwonder 'n bietjie...

Ek het nog nie 'n beter beeld teëgekom rakende die beskrywing van menslike ontwikkeling nie, altans, wat menslike ontwikkeling KAN wees: 

Die Nautilus-spesie oorleef al bykans 450-500 miljoen jaar deur sy manier-van-doen, en word tereg as 'n lewende fossiel beskou. Sy method is dus deur dik en dun beproef, en dit WERK! Tried and trusted...

Die Nautilus skulp word bewoon deur 'n diertjie, die Nautilus, wat gebore word met 'n vierkamer-skulpie. Piepklein... Amper soos 'n oseaniese starter-pack.

Maar dan eet hy, en dan groei hy, en dan word sy vierkamerplekkie te klein. Hy gebruik dan sy oorspronklike "dak" as sy nuwe vloer, bou vir hom 'n groter kamer, en trek soontoe.

Sak en pak. Klink soos my oupa Hannes, en my pa - kon / kan nooit ophou aanbou nie...

Hy seël sy voormalige "plafon" om die nuwe vloer te voltooi. 

En so gaan dit aan deur sy (ten minste) sestien lewensjare: Neem in, groei sy huidige kamer vol, bou groter, trek na 'n groter kamer toe, ou plafon word nuwe vloer... 

Die ontwikkeling van die Nautilus skulp verteenwoordig die sogenaamde Goue Verhouding (wat 'n noue verbintenis met die befaamde Fibonacci-reeks het) van plus-minus 1.6180339887 .... as aspekte van die volgende, groter kamer met aspekte van die die vorige, kleiner kamer vergelyk word. 

Geen ander verhouding het al meer inspirasie en bepeinsing onder kunstenaars, argitekte, wiskundiges ens. versoorsaak nie, volgense sekere bronne.

Om myself in die "skoene" van die Nautilus te plaas, en terug te kyk, vanuit my huidige, ruimste kamer ooit, na al die vorige kamers tot by my oorspronklike 4-kamerplekkie (ouers + eet + vuil doeke + slaap?), is regtig inspirerend, vir my.

So, hoekom gaan ek so aan oor die Nautilus?

Want, 'n mens met 'n vierkamer-starterpack-skulpie van talente, persoonlikheid en omgewing (nature en nurture), wat die regte method geleer word rakende hoe die lewe werk, en KAN werk, kan sy hele lewe lank bou en groei, en bou en groei...

Jaar in, jaar uit...en dan uiteindelik terugkyk op die asemrowendste lewenskulp?

Hierdie uiters persoonlike body of work wat so eie is aan die individu wat dit geLEEF het!

Wow, what opportunity, for everyone!

NS. Ek dink ek gaan hierdie vir ons politici stuur - dit is volgens my van toepassing op elke mens op aarde, maak nie saak waar jy jou bevind nie. 
NSS. Ek is net bang dat die regeringsamptenare sal dink Fibonacci is 'n Italiaanse klerevervaardiger? : | Of hopelik het hulle ook al Google ontdek, soos ek? : )

No comments:

Post a Comment