Monday, January 2, 2012

Vervloekte vuurwerke...kon Scuds gewees het...

Eisj, maar Oujaarsaand was lekker - potjiekos, goeie geselskap, Amstel, rooiwyn, Panacotta-poeding... Mmm...mmm...mmm!

Maar toe die horlosie 23:00 se kant toe staan, begin die omgewing ontplof...Griet en Googles (ons honne) maak hulle broeke nat - kry regtig swaar - ontsettend sensitiewe ore... Ek pyn sommer namens hulle...

Ons laat hulle inkom, binne die huis in die stilste hoekie moontlik, en ek probeer hulle rustig hou met sawwe kitaarmusiek, maar ek word moeg, want die dag was lank!

Gaan slaap, net om elke paar minute wakker te word van die honde se gehuil, of Petro-Mari se gehuil, of 'n kombinasie van altwee...

So 'n onwerklike nag van ontploffings - wonder hoe sou dit gewees het in 'n area waar dit lewensbedreigende ontploffings is, soos Palestina / Israel? Ek wonder hoe gaan dit met die mense en die honde daar? Moet nag wees... elke dag...

Ek het eenmaak skouers geskuur met 'n Israeli genaamd Michael Lazan, wat vredeswerk doen, onder andere ook in Israel / Palestina. Hy vertel toe dat daar twee "sones" in Israel is:
"Sone" 1, waar die ou Scud missiele kan tref. As ek reg onthou, is dit binne 40km van die Palestynse grens.
"Sone" 2, waar missiele kan tref wat verder as die Scuds kan vlieg...

Dit nou in vergelyking met hoe ek na my omgewing kyk, en in watter sones ek my omgewing indeel...bisar!

Die ongemak en werklike pyn wat ons en ons honde een maal per jaar moet verduur met die onwettige vuurwerke wat so rojaal ontplof, kan seker nie begin om op te weeg teenoor dit wat die Palestyne en Israeli's elke dag beleef nie?

En dan onthou ek nog die dae, so 2 en 'n half na 3 dekades gelede, hoe ek grootoog, vol verwondering, voor Eleanorstraat 313 in Garsfontein, Pretoria, op Oujaarsaande staan en kyk het na ons buurt se vuurwerkvertoning, en self ook daartoe bygedra het...

Terug na eergisteraand:
En ek hoor so tussen al die kartetse deur, hoe jil Henry-hulle se kinders twee huise van ons af van plesier vir hulle "crackers"...

As die honde, katte en ander diere net nie so getraumatiseer was daardeur nie...

Waar's die goue middeweg? Of moet ons maar die plesier probeer balanseer met die pyn?

Vir altyd?

No comments:

Post a Comment