Friday, December 9, 2011

Drukkoker-bakkery...'n kettingsaag...en 'n vriend... (viole speel onheilspellend...)

Hey!

Ek is Werner.
Welkom by / op / in my blog!  En in my brein se tuin...effe wild hier, van tyd tot tyd, maar oordeel jy maar self...

Ek is tans die tweede keer 18 : ), werk al 18 jaar, getroud met Anneline (Lieng) vir 10 jaar, en het saam 'n mooi mys, Petro-Mari (Lalliepot, maar haar byname wissel van dag tot dag) (2 jaartjies) (tweede enetjie einde Jan. 2012 / begin Feb. op pad)...

Interessante tye...baie interessant... ek voel 'n bietjie soos 'n afwagtende springmieliepit in 'n drukkoker... hoop nie ek "pop" gou nie.

Laas keer toe Lieng in die laaste paar weke van swangerskap was, toe kry ek 'n bevlieging soos sekere mense wat wag vir sneeu om te smelt na 'n lang yswinter... so 'n algemene bedonnerdgeit wat moet uitloop op 'n uitbarsting van een of ander aard... gepaardgaande met permanent gesperde neusvleuels, natuurlik...

Toe huur ek 'n kettingsaag by 'n tool-plek, koop 'n bietjie two-stroke en petrol en ontbos ons erf - geen uitheemse boom het staande gebly nie...

Raaaaaaaaaa!!! 

Ek het gevoel soos Conan die Barbaar + Arnold Schwarzenegger + Vernon Koekemoer + MacGuyver + die Tokkelossie, alles-in-een! En ek was effe rustiger tot en met Lalliepot se geboorte. 

Wou haar oorspronklik Konyn en Latika noem (as byname), maar Lalliepot het ge-stick...vir een of ander rede.

Konyn kom van 'n oulike ou Mini (motor) waarop die naam Konyn geverf was, en Latika is daardie opvreetbare Indiese meisiekind in Slumdog Millionaire - met die pikswart ogies en blink-blou swart haartjies... 

Maar toe is Lalliepot 'n blondinetjie, en haar ogies is blou soos die hemel...

Terug by die hede... dis weer sulke tyd, met 'n effense verskil - oukei, korreksie - met 'n m**rse verskil:

Lieng is weer in die final countdown...Lalliepot is super-oulik-prinses, ek het in Augustus laas wesenlike konsultasiewerk gehad (darem so 'n bietjie in Oktober, en so 'n bietjie hierdie maand), het 'n memoire-rige manuskrip en 'n paar kortverhale gepleeg sedert Mei hierdie jaar...

Daar is 'n uitdrukking: Gooi jou brood op die water..?

En dis hier waar ek soveel brood op die water het dat dit beslis, volgens my, 'n bakkery genoem kan word - twee skrywersbeursaansoeke by 'n universiteit, so 'n stuk of 20 formele werksaansoeke, 'n handvol konsultasie-voorleggings, sirkuleer my manuskrip in my netwerk en kyk waarheen dit gaan, werk met my kitaarmeester om hom by die wêreldverhoog te kry - waar hy hoort. Komponeer staaaadig aan 'n song of twee. Voltooi my daaglikse dosis klassieke kitaarstudies... en my manuskrip is by nege uitgewers vir hulle heerlike 6-8 maande evaluasieproses...

Bou, bou, bou...

Brood...brood...bakkery...

Lieng vra my iewers hierdie week: "Neem jy nie nou jou stokperdjies te ernstig op nie..?" 

Daar flits 'n geluid deur my kop soos 'n vinielplaat wat strelende musiek speel, en dan kwetsend krap...en die musiek in my kop is weg... ek grom innerlik...
Bliksem, soms hou ek nie van 'n challenge nie! : ) Maar ek hou daarvan dat Lieng die balls het om so op my knoppies te druk... soms  (hou ek daarvan, sy druk altyd my knoppies) : )

Maar die antwoord moet wees: "Ek weet nie...ek weet nie." Op 'n manier word dit oukei vir my om dit te spreek: "Ek weet nie."

Intussen was  ek hierdie week by 'n vriend - totale senuwee-ineenstorting gehad a.g.v. te sterk probeer wees vir te lank - hy weet nie waarheen nou nie... weet nie... Draf op sy treadmill as die depressie te erg begin knaag...nie gedink ek sal hom ooit so broos sien nie... ek is stil, diep stil...

Ek kan nie sy oë uit my gedagtes kry nie...spook by my. Bid hard vir hom...die eerste bloeiseltjies van sy heling wys al - maar hulle is klein, net so broos soos hy...

So maklik om op myself te fokus - terwyl my vriend my nodig het om na hom uit te reik...hy help my onthou dat ek nie sterk is nie. Was nog nooit nie. Dis grootliks waaroor my manuskrip gaan.

Oeeee...arme ek! Lieng se broodjie wat bak - amper gaar... en dan my professionele bakkery wat ek op die water gegooi het...

Dan wil ek skree:
"from the top of my lungs: What's going on?!
And I say: Heeeeey-yaaaaay-yaaaay-hey-hey,
Heeeeey - yaaaaay- yay, I say hey!
What's going on!" (Met apologie aan Four Non-Blondes : ) )

Oftewel, in my eie woorde:
"Waar is die rendement...wanneer kom die brood nou terug..? Wat moet ek meer doen?" So asof ek 'n (eensydige) sielkundige kontrak met die heelal gesluit het... en ek het ALLES (volgens my, natuurlik) gedoen wat redelikerwys van my verwag kan word..!

"Come on!"

"Waar is die resultate! Wanneer kom daar meer inkomste! Wanneer kom die baba! Wanneer kry ek 'n onderhoud..!"

Ek is meer opgewonde, meer gereed, meer verveeld as nog ooit tevore..!

En dan hoor ek 'n God-stem wat praat, so diep soos Jean-Luc Picard se stem (Star Trek-kaptein van formaat, volgens my), of dalk James Earl-Jones (Mufasa in Lion King):
 "Jy het daarin getrap, al 8 maande terug..! Jy staan nou daarin...knie-diep al..."

"Wat?! Ho..Mmm..Hoe nou?" Ek kyk om my, verward rond - voel 'n bietjie weird...

Miskien is 'n kettingsaag nie nou nodig nie? 

Miskien moet ek maar net aanhou doen wat Lalliepot sê, as iemand haar vra watter werk haar pappa doen:"
"My pappa druk knoppies."

Dankie, my mys...ek sal aanhou knoppies druk, vir nou... Mwa! : ) 



No comments:

Post a Comment