Wednesday, December 28, 2011

Hierdie tyd van die jaar...Coke-en-iets...en twee tiptolletjies...

Tot en met 1998 het hierdie tyd van die jaar vir my 'n sekere betekenis ingehou. Toe, op 27 Desember 1999 het hierdie tyd van die jaar vir my eensklaps 'n anders betekenis gekry. Bo en behalwe die oorspronklike betekenis. Sy is weg op daardie dag, en gister was sy 'n volle 12 jaar al weg... Ek wonder hoe die 27 Desembers in die toekoms gaan wees? Gister het elemente van hartseer, afskeid, rou, herrinnering bevat (soos gewoonlik), maar ook iets nuuts - 'n viering? Van 'n lewe. Verrassend. Verfrissend...

My skoonfamilie is gisteroggend vroeg weg (huis toe) na 'n baie lekker kuier van 'n paar dae - die huis is nou dawerend stil... En niks meer Coke-en-iets nie - ek drink net saam met my skoonpa en swaer Coke-en-iets. As hulle nie naby is nie, mag daar nie Coke of iets in die huis wees nie. Ek wens hulle wou langer kuier? : )

Maandagmiddag het daar 'n buitjie uitgesak, gepaardgaande met 'n knorrige winderigheid. 'n Windverwaaide boomtak gooi toe twee tiptolletjies uit hul nessie - ten volle geveer, maar kan nog net afdraande vlieg. Hul ouers het visie gehad om hulle in 'n boomtak te huisves wat bo-oor ons erf is. As hulle elders in die boom gebly het, sou hulle nou al in Tigger, oom Leo se gemmerkat, se maag gewees het.

Nou ja, ons en ons mense ruk toe op en probeer die tiptolletjies weer terug in hul nessie kry, ek staan waaghalsig bo-op 'n aluminiumleer, Skoonpa hou die leer vas... hul ouers skree blou moord, en terug is hulle!

Vir 'n minuut.

Sug.

Ek is skaars terug op die grond, toe kom altwee weer afdraande gevlieg - en soos wafferse krieketspelers vang ek en my skoonpa elk 'n tiptolletjie!

Weer terug op die leer en ek sit hulle altwee in hul nessie, wat werklik vir my 'n bietjie knap voel - ek dink hul pa is 'n lui bouer. Hierdie keer gee ek hulle 'n toespraak - en vermaan hulle om asseblief nou rustig te wees, anders is hulle dalk permanent in die moeilikheid.

Weer vir 'n minuut - en daar kom hulle weer. Ons besluit om hulle in 'n mensgemaakte nes - 'n druiweboks uitgevoer met papierhandoek - te huisves, bo-op 'n blou syselbos (plumbago). Ons skarrel terug in die huis, en maak die honde aan die agterkant van die erf toe. Ons lewens moet voortgaan...

Gisteroggend is die boks leeg, en beide tiptolletjies sit styf teen mekaar op 'n tak in 'n olienhoutboom, so 50cm van die grond af, met hul ouers wat vir hulle daar kos gee. Dis dalk tweede prys, maar hulle het 'n kans op oorlewing. Gedurende Augustus het vier baba-olyflystertjies met die ongelooflikste kamoefleervernuf, en besorgde ma's, grootgeraak in ons erf, selfs waar die honde by was! Die natuur is darem maar iets anders! Wonderlik.

Ek hoop ek en Lieng kry dit reg om ons kinders op die regte tyd uit die nes uit te kry, nie te vroeg nie, nie te laat nie - net reg... Maar, terug na vanaand toe - daar wag 'n meisiekind met 'n nuwe pop, 'n blonde krulkop en 'n sterk wil vir my... : )

No comments:

Post a Comment